FOTO’S: So ontsnap vier gevangenes uit Noordwes-tronk

Deel hierdie storie / Share this story

Die ontsnapping van vier gevangenes uit die Rooigrond-gevangenis in Mahikeng was goed georganiseerd en beplan, het die South African Prisoners’ Organization for Human Rights (Sapohr) Woensdag gesê.

Golden Miles Bhudu, woordvoerder vir Sapohr, het Woensdag aan News24 gesê die gevangenes het deur ’n venster ontsnap en oor die tronk se hek gespring.

In die foto’s wat Bhudu met News24 gedeel het, is ’n gebreekte venster sigbaar, en ook lakens wat geknoop is om by die venster te kon uitklim. Tou is ook op die toneel gevind.

“Die persoon wat vanuit die tronk vir my die foto’s gestuur het, het gesê die gevangenes het oor die loop van ’n paar maande die ontsnapping beplan,” sê Bhudu. “Niemand het seergekry nie en niemand is gedreig of aangerand nie.”

In ’n verklaring wat die polisie Dinsdag uitgereik het, doen die departement van korrektiewe dienste ’n dringende beroep op die gemeenskap om op die uitkyk te wees vir die vier gevangenes wat onder andere vir moord en verkragting vonnisse aan die uitdien was.

Lees die vorige artikel hier.

FOTO’S: NEWS24