Aandag kunstenaars! Leer hoe om jou kuns professioneel af te neem & meer

Deel hierdie storie / Share this story

Die 38-jarige Liesel Wessels het in gr. 1 ‘n kunskompetisie gewen en haar liefde vir kuns het sedertdien net gegroei.

Liesel, wat vandag ‘n professionele kunstenaar is en spesialiseer in portret- en wildelewe-sketse en -skilderye, het in haar loopbaan haar kunswerke by die Kotze-galery se Best of Bloemfontein-uitstalling én die Free State Ceramics-uitstalling by Oliewenhuis-kunsmuseum uitgestal.

Liesel is al 25 jaar ‘n Bloemfonteiner en dis waar sy en haar man, George, met hulle honde woon.

Sy vertel sy was nog altyd lief daarvoor om kunswerke met haar hande te skep. “As kind was ek nog altyd lief vir prentjie-storieboeke. Ek het in gr. 1 my eerste kunskompetisie gewen, en dit was een van die katalisators wat my op kuns laat fokus het!”

Ná skool het die talentvolle Liesel by die Ernst de Jongh Art Academy studeer en ook haar BA-graad aan Kovsies verwerf.

Sy vertel sy doen ook gereeld kunskursusse, hierdie jaar een by René Snyman.

Behalwe vir die portret- en wildelewe-sketse en skilderye en kommissies wat sy vir kliënte regoor Suid-Afrika, sowel as oorsee (Frankryk, Spanje, Amerika en Australië) doen, gee sy ook kunsklasse.

Sy vertel sy gee klas vir beginners en intermediêre kunsstudente in potlood, olieverf, akriel, sagte pastelle, charcoal, ink en multimedia. Kunsstudente wat hul eie materiaal bring, word voorsien van esels, palette, tafels, koffie/tee en ander geriewe.

Liesel se gunstelingkunswerk is Lady Agnew of Locknaw deur John Singer Sargent, en een van haar eie is Kina.

Liesel vertel sy is opgewonde oor die event wat Dinsdag 5 April by die Kotze-kunsgalery in die Rosestad plaasvind.

‘n Fotografie/videografie-werkswinkel word deur die professionele Danita van TruReflection Studio en Zita Olinger van Zita Filmz aangebied.

“Dis ‘n werkswinkel spesifiek vir kunstenaars of persone in enige ander kreatiewe beroepe. Ons gaan leer hoe om foto’s van kunswerke te neem vir sosiale media, hoe om ‘n kunsportfolio saam te stel en ook van bemarking.

“Leer ook bietjie ‘tricks of the trade’ en oulike idees rondom fotografie en videografie om jou kunsbemarking meer interessant te maak!”

Dié werkswinkel sluit raad in oor beligting, hoe jy jou produkte uiteensit (layout) en hoeke. Beide sessies sluit ‘n praktiese demo, sowel as ‘n inligtingsessie in.

Verversings sal aangebied word en kaartjies vir die werkswinkel kos slegs R300 per persoon.

Daar is slegs 23 kaartjies beskikbaar, so bespreek nou jou plek vir Dinsdag 5 April om 17:30 tot 19:30 by die Kotze-kunsgalery, Genl. Dan Pienaar-rylaan 44.

Kontak Liesel by ‪083 400 2864‬.