Elaine Davidson, wat in Brasilië gebore is en nou in Skotland woon, hou tans die Guinness-wêreldrekord vir die meeste lyfgaatjies (piercings) aan ‘n vrou.
Sy spog met 11 003 lyfgaatjies en sê sy is nog lank nie klaar nie…
Pyn is nié vir Elaine ‘n probleem nie, want sy kan op ‘n bed vol spykers slaap, op gebreekte glas lê, op brandende kole loop én sy het ‘n swartbelt in judo.
Toe Elaine in 2000 deur ‘n beampte van die Guinness World Records ondersoek is, het sy ‘n totaal van 462 lyfgaatjies gehad. Byna die helfte van dié lyfgaatjies (214) was in haar pubiese area en 192 daarvan was op haar gesig, insluitend haar ore, wenkbroue, voorkop, ken, neus en tong.
Die res van die lyfgaatjies (56) was regoor die res van haar lyf.
Toe sy ‘n jaar later weer ondersoek is, het sy 258 lyfgaatjies bygekry, en toe ‘n totaal van 720 gehad.
In 2005 het The Guardian berig Elaine het 3 950 lyfgaatjies gehad het en in 2008 was dit 5 920 in totaal.
Elaine, wat ‘n voormalige verpleegster en restauranteienaar is, het in ‘n onderhoud gesê dat sy op ‘n baie jong ouderdom al gedroom het daarvan om ‘n Guinness-wêreldrekordhouer te wees. Omdat sy nie omgee vir die pyn nie, het sy gedink dié rekord is die beste om uit te daag.



