Foto: Itumeleng English/African News Agency (ANA)
‘n Lektor by die Universiteit van Limpopo is Sondagoggend koelbloedig doodgeskiet toe hy omstreeks 06:30 in ‘n woonbuurt gedraf het.
Die 51-jarige professor Saber Tayob Mohammed, wat ook ‘n rekenmeester is, was besig om in die Sterpark-woonbuurt te draf. ‘n VW Polo het verby hom gery en gestop. ‘n Insittende het uitgeklim en Mohammed verskeie maal koelbloedig geskiet.
Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, sê die polisie is nou op soek na die verdagtes wat ná die skietery van die toneel weggejaag het.
Maj.-genl. Jan Scheepers, provinsiale kommissaris, doen ‘n beroep op die gemeenskap om met enige inligting na vore te kom om die polisie in hul ondersoek te ondersteun.
Die rede agter die moord is nog nie bekend nie.
Enigiemand met inligting kan adj.-off. Joseph Malebana by 072 492 9635 kontak. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.



