Die sanger Jody Wayne (77) is Maandagaand omstreeks 23:00 oorlede, skryf Manie Jackson op sy Facebook-blad.
“Môre mense….. Ons harte is bitter seer, want ons almal het n wonderlike dierbare vriend, gisteraand om 23:00 aan die dood afgestaan. Die Peter-Pan van die musiekbedryf, Jody Wayne, is gisteraand, 14 Maart op 77 jarige ouderdom oorlede. My hart is te seer om nou ‘n huldeblyk saam te stel. RIP, Little Joe.”

Little Joe, soos hy bekend gestaan het was ‘n vervaardiger, liedjieskrywer en vermaakster wat langer as 60 jaar professioneel opgetree het.
Patches, The wedding en Sixteen Candles was van sy grootste treffers.
Wayne het glo die afgelope tyd met sy gesondheid gesukkel, maar die oorsaak van sy dood is onbekend.
Die TV-reeks Die Huis Van Legendes, waarin Wayne verskyn en wat in Januarie opgeneem is, sal later vanjaar uitgesaai word.




