Anna Sorokin (Anna ‘Delvey’), sosiale swendelaar, vandag vrygelaat

Deel hierdie storie / Share this story

Anna Sorokin, die sosiale swendelaar op wie die Netflix-drama, Inventing Anna, gebaseer is, is vandag uit ‘n aanhoudingsentrum in New York vrygelaat.

Julia Garner speel die rol van Anna in die Netflix-treffer. Kykers is in twee geskeur oor of Anna ‘n dapper entrepreneur of swendelaar was.

Luidens die New York Post sal sy Maandagaand op ‘n vlug na Frankfurt klim, om na Duitsland gedeporteer te word. Sy het byna ‘n jaar in die Orange County- korrektiewe fasiliteit van die Immigrasie en Doeane-instelling (ICE) deurgebring omdat haar visum verval het.

Sorokin (31) wil glo nie gedeporteer word nie en wil teen die besluit appèlleer.

Versoeke vir inenting geïgnoreer

Verlede maand het Sorokin – wie se lewe en misdade in die Netflix-treffer Inventing Anna uitgebeeld is – en drie ander ICE-aangehoudenes federale immigrasie-owerhede gedagvaar nadat hulle Covid-19 gekry het terwyl hulle in aanhouding was.

Sorokin het positief getoets vir die virus op 19 Januarie, weke nadat sy ‘n skriftelike versoek ingedien het vir ‘n opvolgentstofdosis wat onbeantwoord gebly het, volgens die klagte wat deur die American Civil Liberties Union (ACLU) by die federale hof ingedien is.

Die eisers het beweer dat ICE hul grondwetlike regte as medies kwesbare mense geskend het deur hul versoeke te ignoreer.

Wou glo kunsklub begin

Sorokin het in 2013 na New York City gegaan om ‘n kunsklub vir slegs lede op die been te bring, volgens haar voormalige verdedigingsprokureur Todd Spodek, maar dinge het buite beheer geraak. Sy het beweer sy is ‘n erfgenaam met die naam Anna Delvey en het New York se elite, hotelle en banke in 2016 en 2017 uit sowat $275 000 bedrieg terwyl sy verhale van haar welgestelde agtergrond en belangstelling in besigheid en die kunste verweef het.

Klopjag deur een van “vriende”

Op 3 Oktober 2017 is Anna deur die Los Angeles-polisiedepartement in hegtenis geneem in ‘n klopjag wat deur die Manhattan-distriksprokureur se kantoor beplan is.

Rachel DeLoache Williams, wat beweer het dat sy deur Anna uit meer as $60 000 bedrieg is tydens ‘n reis na Marrakesh, was by die klopjag betrokke. Anna is na Rikers Island oorgeplaas, waar sy sonder borgtog aangehou is. Drie weke later is sy aangekla vir diefstal van ongeveer $275 000 deur verskeie swendelarye.

Vier jaar in tronk spandeer

Sy is skuldig bevind aan agt aanklagte teen haar, insluitend tweedegraadse diefstal, diefstal van dienste en eerstegraadse poging tot diefstal. Sy is onskuldig bevind op twee aanklagte: een van poging tot diefstal in die eerste graad, en een van diefstal in die tweede graad (wat verband hou met die beweerde diefstal van $62 000 van Rachel Williams in Marrakesh).

Sy is op 9 Mei, 2019 vier tot 12 jaar tronkstraf opgelê, ‘n boete van $24 000 en is beveel om restitusie aan haar slagoffers te betaal. Op 11 Februarie 2021 is sy weens goeie gedrag uit die tronk vrygelaat, maar in Maart 2021 is sy deur die ICE in hegtenis geneem omdat haar visum verval het.

In werklikheid is Anna Sorokin in Domodedovo, ‘n werkersklasdorp suidoos van Moskou, gebore.