Vanjaar se In die Laer beloof ‘n gebeurtenis waar ‘n gesin saam herinneringe kan bou en deel vir later se onthou, deur die lewe in die Voortrekkerera te beleef en ouers se gister onthou te geniet.
Vier verskillende ossewaens, ‘n nagmaalwa, kaalwa, transportwa en kakebeenwa sal vanjaar uitgestal word en gesinne en die publiek kan op die ossewa ry om te ervaar hoe die waens deur die veld beweeg het.
Verskeie aktiwiteite soos die kort van ‘n ossewawiel, die smeer van die wiel, die in- en uitspan van die osse en die werking van elke deel van die ossewa gaan verduidelik word.
Deurlopende vertonings van die vervaardiging van items soos kerse, botter, skoene en spykers vind in die laer plaas.
Vrydagaand word ‘n kampvuurkonsert met stories en samesang aangebied.
Saterdag se hoogtepunt is ‘n Voortrekkerete waar besoekers 20 geregte soos in die laer voorberei is, kan proe. Dit sluit afval, wildspastei, hoederpastei, kaiings, bobotie pampoentert, gemmerbier en melktert in.
Etekaartjies sluit Saterdag gratis toegang tot die terrein in.
Vir die jeug word interessante speletjies uit die era met goeie pryse vir die wenners aangebied.
‘n Verskeidenheid stalletjies met handvervaardigde produkte en tradisionele kos sal ook beskikbaar wees.
Sondag word afgesluit met ‘n In die Laer-erediens.
Kaartjiebesprekings vir die Voortrekkerete open 18 Februarie 2022 en die koste is R150 per volwassene en R80 vir kinders onder 10. Die etekaartjie sluit gratis toegang tot die terrein op Saterdag in.
Toegang tot die terrein op Vrydag en Saterdag is R50 per volwassene en R20 per kind. Sondag is gratis.
Geskiedenis en kulturele erfenis is besig om verlore te raak vir die jonger geslag. Die bewaring van kultuurgebruike en geskiedkundige gedenkwaardighede is van kritiese belang vir die voortbestaan van ons kultuurerfenis.
Die Rapportryerbeweging, Voortrekkers, Afriforum en Landsdiens beywer hulle om die Afrikaner-kultuurerfenis te bewaar en te bevorder.
Die doel van die geleentheid is om fondse vir die bewaring en instandhouding van monumente by Magersfontein, Paardeberg, Modderrivier en Kimberley in te samel.
Vir meer besonderhede besoek https://indielaer.co.za of skakel vir Marius Nagel by 0837789179 om kaartjies te bespreek.






