Dis Dawid teen Goliat dié naweek wanneer Afrikaans Hoër Seunskool besoek aflê by Diamantveld vir hulle jaarlikse derby.
Die skole het weens die Covid-19-pandemie nie in 2021 deelgeneem nie, maar hierdie jaar is albei skole slaggereed. Die tafel is gedek vir skolesport uit die boonste rakke.
Meer as 30 sportspanne gaan die naweek kragte meet in rugby, hokkie en netbal.
Buiten Afrikaans Hoër van Pretoria neem Duineveld, Upington, Boys High, Homevale, Sol Plaatje Universiteit en Sentraal aan die sportdag deel.
Hokkie en netbal skop alreeds vandag af met die hoofwedstryd wat Saterdag plaasvind.
DHS se 0/16A seuns-hokkiespan speel vanaand om 19:10 teen Upington op CBC se Astro-baan, wat ’n hoogtepunt vir die dag behoort te wees, terwyl die 0/19 A seuns om 15:50 teen Boys High kragte meet.
DHS se eerste netbalspan speel reeds vanmiddag om 17:50 teen Affies in die hoofwedstryd van die dag en Saterdag om 13:35 teen Jim Fouche van Bloemfontein.
Rugby het ’n vol program met die eerste spanne wat mekaar reeds om 08:00 Saterdagoggend pak en die hoofwedstryd wat om 16:00 op die A-veld afskop.
Diamantveld het in 2020 erg slae gekry teen Afrikaans Hoër, maar hierdie jaar se span is steeds onoorwonne na drie wedstryde.
Leon Karramaker, afrigter van Diamantveld, glo sy span is goed afgerig, maar besef die aanslag waarmee ’n skool soos Afrikaans Hoër vorendag kan kom.
“Ek lees niks in ons oorwinnings tot dusver nie en beskou onsself as ’n buiteperd. Die seuns is wel baie opgewonde om weer te speel en ons sien uit na ’n goeie dag vol opwinding!”
Diamantveld se span word die jaar deur JP Vorster gelei, met Wynand Botha as sy adjudant.
Die volledige span vir Saterdag se kragmeting is soos volg:
1 Div Strauss
2 Vice Hofmeyer
3 Flip du Rand
4 JJ Engelbrecht
5 JP Senekal
6 Ruben Pienaar
7 Junior van Niekerk
8 JP Forster (kaptein)
9 Wynand Botha
10 Dolf Hohls
11 Liam Ferris
12 Ruan Watts
13 Henro Nel
14 Micheal Prinsloo
15 Markus Maree
Afskop sal om 16:00 plaasvind.
Kry al die naweek se bepalings hier:







