Tshediso Andries Motsoele (45) is gister lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op Johanne Andriette Bisset (73) wat op haar plaas net buite Smithfield vermoor is.
Sers. Martin Xuma, polisiewoordvoerder, sê Motsoele het op 14 Desember 2020 gesien hoe die plaaseienaar na sy ander plaas toe ry.
“Die beskuldigde het gesien hoe die 73-jarige Bisset in die kar klim om te ry. Hy het haar uit die motor gepluk, haar kop teen ‘n paal gestamp, haar twee keer in die nek gesteek en haar oorbelle en ringe ter waarde van R78 000 gevat.”
Xuma sê die beskuldigde het van die toneel gevlug en die plaaseienaar het op sy vrou se lewelose liggaam langs haar kar afgekom.
Volgens Xuma is die polisie toe na die toneel geroep en binne vier ure is die verdagte in die Smithfield-omgewing vasgetrek.
“Die polisie het sy huis deursoek en op ‘n bebloede oorpak en juwele afgekom.”
‘n Saak van moord en roof is ondersoek en só is genoeg bewyse teen die beskuldigde ingewin, en hy is gevonnis.
Moord – lewenslange tronkstraf
Roof – 15 jaar tronkstraf



