Die voortdurende versuim deur die Noord-Kaapse departement van gesondheid om die kritieke tekort aan verpleegsters in die provinsie aan te spreek, het ‘n nadelige impak op veral mediese nooddienste in Warrenton gehad.
‘n Onlangse voorval vroeër in Februarie, toe ‘n slagoffer van misdaad nie mediese sorg kon ontvang nie, het gewys hoe erg die probleem eintlik is. Dit kom nadat ‘n jong, gestremde vrou wat aangeval is terwyl sy haar tuin versorg het, nie die nodige behandeling of medikasie kon ontvang nie. Die vrou is deur haar bejaarde ouers hospitaal toe geneem, maar hulle is deur die sekuriteit by die hek gesê dat daar geen personeel of verpleegsters is om hulle by te staan nie en dat hulle bloot die gebou beveilig. Die getraumatiseerde gesin moes toe ‘n plaaslike dokter inroep om hulle by te staan, teen ‘n koste vir die ouers wat ontvangers van SASSA-toelaes is.
Op ‘n daaropvolgende oorsiginspeksie aan die Gemeenskapsgesondheidsentrum, het ek vasgestel dat die fasiliteit bedoel is om ‘n ongevalle-afdeling te hê wat 24/7 werksaam is, maar ná ‘n vergadering met onderskeie vakbonde en die departement is ‘n resolusie geneem dat die personeel elke dag net tot 16:00 sal werk totdat die departement van gesondheid die hospitaal van meer verpleegsters kan voorsien.
Die situasie is hartseer en onaanvaarbaar en skets ‘n prentjie van ‘n gesondheidstelsel in verval. ‘n Eens trotse en ten volle operasionele 24-uur-hospitaal, wat ‘n bevolking van sowat 24 042 bedien, word nou afgegradeer na ‘n disfunksionele kliniek.
Die burgers wat die swaarste ly is die armstes van die armes, wat nie ‘n dokter kan bekostig nie en wat nie kan wag vir ‘n ambulans om hulle uiteindelik na die naaste hospitaal in Jan Kempdorp, wat nog 25 kilometer ver is, of Hartswater wat 40 kilometer verder is, te neem nie.
Die DA het ‘n skrywe aan die LUR van Gesondheid, Maruping Lekwene, gerig om dringend aandag aan die vlak van beskikbare gesondheidsdienste in Warrenton te gee. Wat hier gebeur, is die mislukking van die gesondheidstelsel en ‘n skending van die regte van die mense van Warrenton om toegang tot gesondheidsorg te verkry.
*Persverklaring



