Die 19-jarige Jessica Jacobs van Pretoria wat op 14 swanger geraak en nou haar matriekjaar met universiteitsvrystelling geslaag het, sê haar dogtertjie is uit en uit ‘n geskenk van Bo en die lig in haar lewe.
Jessica gesels met ons oor die pad wat sy gestap het vandat sy aan die begin van haar gr. 9-jaar uitgevind het sy is swanger, tot nou.
Sy vertel sy het in haar Desembervakansie in 2016 baie tyd saam met Janeske (4) se pa deurgebring. Toe sy ná die vakansie by die huis kom, het sy haar ma, Wendy, vertel sy vermoed sy is swanger.
“My ma was baie ondersteunend. Ons het ‘n rukkie gewag en toe ‘n swangerskaptoets gedoen. Sy het vir my gesê dat ek twee opsies het. Of ek hou my babatjie, óf ek gee haar op vir aanneming,” vertel sy. “Aanneming was nooit vir my ‘n opsie nie en ek het besluit om Janeske te hou.”
Só het Jessica die skoolbanke verlaat tydens haar swangerskap en by ‘n hospitaalskool in Pretoria verder skoolgegaan. Na haar dogtertjie se geboorte is Jessica in 2017 terug na Hoërskool Oos-Moot om haar graad 9-jaar oor te doen.

Wendy, Jessica se ma, is in 2015 vir die eerste keer met baarmoederkanker gediagnoseer. Sy het ‘n histerektomie gekry en die kanker was weg, maar in 2017 moes sy hoor dat die kanker terug is. “Dinge het baie sleg gegaan en die dokters het vir my gesê dat ek my ma moes gaan groet. Toe ek vier maande swanger was, is my ma oorlede.”
Jessica het aanvanklik ná Janeske se geboorte by haar dogtertjie se pa se ouers gaan woon. Sy het ook vir ‘n ruk by haar ma se jongste sussie gewoon, maar toe sy 18 geword het, moes sy uittrek.
Sy woon nou saam met haar kêrel, Devon Jansen van Rensburg (20). “Hy is baie ondersteunend. Hy aanvaar vir Janeske soos sy eie kind en help baie met haar. Veral toe ek in my matriekjaar was en wanneer dinge te rof geraak het, het hy haar by my gevat, vir haar stories aangesit of kos gemaak.”
Só het Jessica deurgedruk en haar matriekjaar met universiteitsvrystelling geslaag.
Sy sê sy is tans nog op soek na werk en het binnekort ‘n onderhoud. “Ek wil so stelselmatig spaar om vir my ‘n motor te koop,” vertel sy.
Sy sê as sy vandag terugdink aan hoe sy in graad 9 gevoel het toe sy uitgevind het sy is swanger. Sy was oortuig dat sy dit nie sou kon doen nie. “Maar ek is iemand met baie uithouvermoë en ek hou van ‘n uitdaging. Ek het nie gedink ek sou dit maak nie, maar as jy nie probeer nie, gaan jy nie weet nie.”
Sy sê sy het die negatiewe kommentaar van mense wat vir haar gesê het sy sal nie matriek deurkom nie, dat sy ‘n slegte ma gaan wees, gevat en dit gebruik om haar sterker te maak. “En ek het sterker anderkant uitgekom.”
Haar raad aan ander tienermammas wat deur dieselfde gaan as sy, is om nooit op te gee nie. “Jy moet weet jy is nooit alleen nie. Daar is altyd iemand wat kan help. Moenie dink jy sal dit nie maak nie.”
“My dogtertjie is ‘n geskenk van God en die lig in my lewe. Ek werk om vir haar ‘n beter lewe te gee as wat ek gehad het.”




