‘n Kuieraand met kampvuurstories, samesang en musiek wag Vrydagaand 18 Maart 2022 op besoekers aan In die Laer wat op 8 Myl buite Kimberley aangebied word.
‘n Tradisionele kampvuurkonsert soos in die verlede in die Voortrekkerlaer met interessante stories en samesang word vanjaar herleef. Vertellings en voorlesings van die lewe in die laer, die era van ossewaens en die trotseer van daaglikse gevare in ‘n ongetemde land is op die program.
Besoekers sal kan deelneem aan die program met samesang terwyl heerlike verversings te koop aangebied word.
In die Laer, ‘n lewende museum met volledige ossewaens, osse en aktiwiteite soos ritte op ‘n ossewa, die maak van kerse en velskoene, korting van wawiele en demonstrasies van voorlaaiergewere asook uitstallings van gebruiksgoedere word van 18 tot 20 Maart 2022 by 8 Myl buite Kimberley aangebied.
Vrydag en Saterdag word ‘n program van aktiwiteite en speletjies aangebied. Saterdagaand word ‘n tradisionele ete waar 20 geregte geproe kan word, aangebied.
‘n Verskeidenheid stalletjies met handvervaardigde produkte en tradisionele kos sal ook beskikbaar wees.
Sondag word afgesluit met ‘n In die Laer-erediens.

Kaartjiebesprekings vir die Voortrekkerete open op 18 Februarie 2022 en die koste is R150 per volwassene en R80 vir kinders onder 10. Die etekaartjie sluit gratis toegang tot die terrein op Saterdag in.
Toegang tot die terrein op Vrydag en Saterdag is R50 per volwassene en R20 per kind. Sondag is gratis.
Geskiedenis en kulturele erfenis is besig om verlore te raak vir die jonger geslag. Die bewaring van kultuurgebruike en geskiedkundige gedenkwaardighede is van kritiese belang vir die voortbestaan van ons kultuurerfenis.
Die Rapportryerbeweging, Voortrekkers, Afriforum en Landsdiens beywer hulle om die Afrikaner-kultuurerfenis te bewaar en te bevorder.
Die doel van die geleentheid is om fondse vir die bewaring en instandhouding van monumente by Magersfontein, Paardeberg, Modderrivier en Kimberley in te samel.
Vir meer besonderhede besoek https://indielaer.co.za of skakel vir Marius Nagel by 083 778 9179 om kaartjies te bespreek.



