’n Hof in Pakistan het ’n man ter dood veroordeel vir die verkragting en moord op die dogter van ’n voormalige diplomaat wat sy verlowing geweier het.
Noor Muqaddam (27) is geslaan, verkrag en onthoof deur Zahir Jaffer, die seun van een van Pakistan se rykste gesinne.
Die wrede moord het op 20 Julie verlede jaar by sy huis plaasgevind. Kringtelevisiebeeldmateriaal het gewys hoe sy tevergeefs probeer ontsnap.
Die moord het landwye weersin veroorsaak en eise laat ontstaan dat meer gedoen moet word om vroue se veiligheid te verseker.
Jaffer het Noor Muqaddam vir twee dae by sy gesinshuis in ‘n deftige distrik van die hoofstad as gyselaar gehou nadat sy geweier het om met hom te trou.
By een van die verhore, terwyl hy saam met sowat ‘n dosyn polisiemanne uit die hofsaal gelei is, het Jaffer aan joernaliste gesê: “Ek was kwaad, ek het Noor met ‘n mes vermoor.”
Haar pa, Shaukat Muqaddam, het die uitspraak ‘n oorwinning vir geregtigheid genoem en gesê hy wil verseker dat misbruikers en moordenaars van vroue in Pakistan nie meer met hul misdade wegkom nie.
Hy het onderneem om die vryspraak van Jaffer se ouers te betwis. Jaffer, ‘n 30-jarige Amerikaanse burger van Pakistanse oorsprong, kan ook teen die uitspraak appelleer.
Bronne: BBC, Yahoo
Volg FiND iT hier.



