Staat in knyptang van skuld, groeiende maatskaplike afhanklikheid en salarisrekening

Deel hierdie storie / Share this story

Met die uitsondering van enkele ligpunte wat die belastingbetaler vir eers meer vryelik kan laat asem haal, is dit duidelik dat die staat vasgevang is in ʼn knyptang van skuld, toenemende maatskaplike afhanklikheid en ʼn buitensporige salarisrekening.

Die goeie nuus eerste:

Dit is ʼn verligting dat die brandstofheffing en padongelukfondsheffing nie verhoog is nie. Dit is welkome nuus teen die agtergrond van stygende ru-oliepryse wat brandstofverhogings in die onmiddellike toekoms onvermydelik maak.

Dit sal egter beter wees om die padongelukfonds (POF) af te skaf.

Persoonlike belastingverligting in die vorm van verhoogde belastingkerwe van 4,5% is aangekondig terwyl maatskappyebelasting met 1% verlaag is.

Die verligting wat maatskappyebelasting aanbetref, is hopelik ʼn aanduiding dat gestalte gegee word aan pres. Cyril Ramaphosa se uitlatings in sy staatsrede oor die belangrikheid van private ondernemings vir ekonomiese groei en werkskepping.

Die enkele persentasiepunt-verlaging sal ʼn positiewe sein uitstuur wat baie kan beteken as stimulus vir die sake-omgewing en om beleggersvertroue te bewerkstellig. Daar moet voortgebou word hierop.

Die slegte nuus is dat maatskaplike uitgawes besig is om saam met staatskuld en die staat se salarisrekening, vinnig buite beheer te raak.

Die land se totale uitgawes beloop tans R2,15 biljoen (duisend miljard) met ʼn inkomsteskatting van R1,85 biljoen. Dit laat ʼn lopende tekort van R323 miljard.

Staatskuld beloop tans R4.3 biljoen en sal op die mediumtermyn tot R5,4 biljoen toeneem. Die dienskoste hierop beloop gemiddeld R330 miljard jaarliks oor die mediumtermyn.

ʼn Kommerwekkende syfer is dat altesame 46% van die bevolking tans afhanklik is van maatskaplike toelaes en R702 miljard word vir maatskaplike dienste en welsyn begroot.

Suid-Afrika is nou duidelik ʼn welsynstaat met ʼn uitgebreide werkloosheidsyfer van 46,4%.

Die onkoste om mense te onderhou wat geen belastingbydrae lewer nie en afhanklik is van die staat deur ander belastingbetalers, het die staat se salarisrekening verbygesteek as die grootste uitgawe.

Die staat se salarisrekening het teen middel verlede jaar sowat R680 miljard beloop en dit is jammer dat die minister nie ʼn aanduiding gegee het oor die pad vorentoe wat salarisse aanbetref nie.

Staatsondernemings se totale uitstaande skuld beloop altesame R853 miljard. Daar heers ook onsekerheid oor toekomstige hulp aan die ondernemings en soos voorheen is die lot van hierdie ondernemings in die hande van die presidensiële raad oor staatsondernemings.

Dit is onverstaanbaar waarom die regering volhard met die wanfunksionele en bankrot padongelukfonds. Die fonds se verlies beloop tans R404 miljard en hierdie geld kan veel beter aangewend word elders, selfs in die vorm van ʼn verlaging in die brandstofprys.

Derdeparty-versekering moet eerder verpligtend gemaak word vir alle motoreienaars en die padongelukfonds moet afgeskaf word.

*PERSVERKLARING

Lees ook: Russiese magte val aan ná Putin se TV-verklaring