Boeliery is gereeld in die nuus en alhoewel ons deesdae meer kennis daaroor dra en daar heelwat in die media daaroor geskryf word, bly dit steeds ‘n kommerwekkende kwessie wat telkens opduik. Ongelukkig is dit ook nie net kinders wat geboelie word nie. Boelies is oral – op skool, in die kuberruim, by die werkplek – en dit is ‘n ernstige saak wat ’n groot impak op die slagoffer se lewe kan hê.
“My hart is stukkend as my kind soggens by die skoolhek moet insluip omdat hy die boelies by sy skool vrees,” vertel Magda. (Skuilname word gebruik omdat dit hom net ’n verdere teiken sal maak.)
Haar laerskoolseun loop nou al maande lank onder ’n groep boelies by die skool deur omdat hy “anders lyk”.
Die geboelie het reeds in 2019 begin, maar te danke aan Covid-19 het dit vir ‘n geruime tyd toe die kinders nie elke dag skool toe gegaan het nie, gestop. Maar dit was van korte duur. Die afknouery het weer vanjaar begin.
Nadat haar seun konstant van maagpyn gekla het, en nie wou skool toe gaan nie, het Magda aanvanklik nie veel daarvan gedink nie, tot sy hom eendag by die skool gaan haal het, en hy in trane uitgebars het.
As gevolg van die feit dat haar seun ‘n kind is wat altyd aan die gang en besig is, veroorsaak dit dat sy brein nie afskakel nie en die voorvalle herhaaldelik in sy kop maal. “My eens vriendelike kind is nou konstant emosioneel en sukkel om in die aande te slaap.
“As ouer is dit nie lekker om in die nag wakker te word van jou kind wat paniekaanvalle kry en nie wil skool toe gaan nie. Ek voel magteloos. Daar is soveel lelike goed in die wêreld, geen kind hoef nog met hierdie ook te ‘deal’ nie.
“As ouer doen ek alles in my vermoë om my kind te leer om ander mense met respek te hanteer en simpatie en empatie vir almal te hê.”
“My hart is baie seer vir my kind. Hy het al soveel trauma in sy lewe beleef, maar met die nodige hulp kon hy alles oorkom. Ek wil nie hê my kind moet ook deel van die statistiek word waar al hoe meer kinders selfdood pleeg as gevolg van die feit dat hulle geboelie word nie.
“Ouers moet begin om hul kinders te leer dat nie almal dieselfde is of lyk of optree nie, maar elkeen is uniek op sy of haar manier en almal het iets moois in hulle. En net omdat iemand anders lyk, beteken nie dat jy met hulle lelik kan wees nie.”

Kalahari online Co. het met ‘n sielkundige op Kuruman gesels om meer oor die euwel uit te vind.
Hoe lyk die tipiese boelie?
Hoewel baie boelies gewild is, en dikwels sosiale mag het, is hulle dikwels ook depressief en angstig en het ’n lae selfbeeld. Die meeste kinders leer om hulle woede en instink om te baklei, te beheer na gelang hulle ouer word, maar die tipiese boelie kry dit nie reg nie.
Die boelie:
- is dikwels bekommerd oor sy/haar gewildheid;
- hou daarvan om in beheer te wees en ander te domineer en seer te maak;
- het vriende wat ander boelie;
- moet altyd wen of die beste wees in alles;
- kan nie identifiseer met ander se emosies of gevoelens nie;
- is aggressief en beskou geweld as positief en raak daarom dikwels betrokke in ’n bakleiery – hetsy fisies of verbaal;
- hou nie van reёls nie en is dikwels in die moeilikheid – word byvoorbeeld gereeld na die hoof se kantoor toe gestuur of sit dikwels detensie;
- weier om verantwoordelikheid te aanvaar vir hulle optrede;
- is ’n heethoof wat maklik gefrustreerd raak;
- het niks goed te sê oor ander nie en blameer sommer vinnig iemand anders;
- het dikwels ekstra geld of nuwe besittings waarvoor hy/sy nie ’n verduideliking kan gee nie; en hy
- sowel as die slagoffer kan op die langtermyn sielkundige letsels opdoen – dit sluit posttraumatiese stres in.
Hoekom boelie kinders?
- Hulle leer om te boelie. Boelies herhaal dikwels die gedrag wat hulle sien of self ervaar. Kinders wat geweld of aggressie ervaar, begin dink dit is normaal en aanvaarbaar en het dikwels nie die vaardighede om probleme sonder geweld op te los nie.
- Die boelie voel bang of nikswerd. Hulle boelie dus om hulleself te beskerm; om te wys hulle is sterk, of om onsekerhede of negatiewe emosies weg te steek.
- Hulle weet nie hoe om hulle eie en/of ander se gevoelens/emosies te hanteer nie en is dit dikwels ’n manier om met hulle eie negatiewe gevoelens om te gaan en beter oor hulleself te voel.
- Hulle wil gewild wees en belangrik voel. Op dié manier kan hulle hulself laat geld onder hulle maats. Daarom is boelies dikwels gewild onder hulle maats en glo hulle kan slegs hulle status behou as hulle ander verkleineer.
- Hulle soek aandag en hou daarvan om ander te beheer. Party kinders kom nie eers agter hoe hulle gedrag ander raak nie. Hulle beskou dit bloot as “cool”. Sulke kinders moet dus empatie aanleer.
- Slagoffers van boeliery praat nie sommer daaroor nie, want hulle voel senuweeagtig of selfs skaam.

Is daar tekens waarna ouers kan oplet?
- Die kind onttrek, wil skielik nie skool toe gaan nie.
- Verloor belangstelling. Jou kind stel skielik nie meer belang in voorheen gunsteling-skoolaktiwiteite nie.
- Skoolwerk gaan agteruit. Omdat die kind bang of angstig is om skool toe te gaan, kan dit negatiewe gevolge inhou en kan die kind selfs belangstelling in hulle skoolwerk verloor.
- Bang om alleen skool toe te gaan. Die kind dring daarop aan om skool toe geneem te word – as hy/sy dalk vroeёr bus gery het.
- Gelukkig tuis, ongelukkig by skool. Jou kind is gelukkig oor naweke, maar ongelukkig, ingedagte, of gespanne op Sondae.
- Bly liewer tuis. Jou kind verkies skielik die geselskap van volwassenes en wil naweke tuisbly.
- Jou kind slaap nie goed nie en het dalk nagmerries.
- Dit kan ook lei tot depressie – wat natuurlik ook ’n invloed op die kind se slaappatroon kan hê – hulle slaap sleg of te veel.
- Hoofpyn/maagpyn. Jou kind kla dikwels oor hoofpyn of maagpyn. Hy/sy praat ook dikwels oor angstigheid of paniekaanvalle, of gevoelens van hartseer of depressie.
- Jou gelukkige en vrolike kind is skielik huilerig, buierig of kwaad. Dit kan deur hormone veroorsaak word – veral by tieners – maar kan ook daarop dui dat jou kind afgeknou word. Soms kan die kind dan ander begin afknou (bv. sibbes, kinders in die buurt).
- Nie goed genoeg nie. Jou kind voel hopeloos en nikswerd en voel dikwels nie goed genoeg nie. So ’n kind blameer hom-/haarself ook dikwels vir hulle probleme.
- Fisiese tekens. Kneus- of krapmerke, bang om alleen skool of huis toe te loop, sleg eet, vernielde of verlore skoolboeke, klere, of elektroniese toestelle, klagtes oor maagpyn of naarheid, ens.
- Verkeerde vriende. Soek die geselskap op van verkeerde vriende (bv. dwelmgebruikers, bendes, ens.).
- Loop weg van die huis af.
- Maak hom-/haarself seer (deur byvoorbeeld met ’n lemmetjie of mes te sny – gewoonlik waar ander dit nie kan raaksien nie).
- Praat oor selfdood.
As jy nou vermoed of weet jou kind word geboelie, wat doen jy?
- Belangrik is om nie sommer net reguit te vra of hy/sy geboelie word nie. Vra liewer meer subtiele vrae: Boeliery is deesdae in die nuus, gebeur dit by julle skool ook? Ek is bekommerd oor jou. Is daar dalk iemand wat jou afknou? Word jy gespot? Word jy aspris uitgesluit van sekere groepe/vriende?
- Verseker jou kinders dat hulle enigiets met jou kan bespreek en dat jy altyd daar is vir hulle. Jou kinders moet weet dat jy hulle bekommernisse ernstig opneem en daadwerklik sal optree om hulle te beskerm.
- Gaan praat met die skool en onderwyser en neem jou kind saam met jou sodat julle almal saam kan werk om te verseker dat dit nie weer gebeur nie.
- Dokumenteer boelievoorvalle – wat gebeur het, waar en wanneer dit plaasgevind het, hoe jou kind gereageer het en hoe die boelie en omstanders gereageer het. Dui ook aan of daar op oplossings besluit is en of dit suksesvol was.
- Help jou kind om strategieё en vaardighede te ontwikkel om boeliery te hanteer. Hulle kan byvoorbeeld leer om meer selfgeldend op te tree, die boelie te ignoreer, humor in te span om die spanning te ontlont en om hulp te vra.
As jou kind die boelie is.
- Luister en wees objektief. Moenie verdedigend optree of dit persoonlik opneem nie. Praat met jou kind en vra vir ’n verduideliking. Vind ook uit wie die voorval begin het en of jou kind dalk eers later deel daarvan geword het.
- Maak seker jou kind weet dat boeliery onaanvaarbaar is en hoe dit ander kan raak.
- Werk daaraan om oplossings te vind – saam met die skool en die onderwysers. Maak seker jou kind weet hy/sy word dopgehou en gemonitor.




