Twee mans is lewenslange tronkstraf opgelê ná hulle in April 2021 by ‘n 31-jarige vrou se woonstel ingebreek het, haar ontvoer en later haar liggaam in ‘n vlak graf begrawe het.
Kol. Dimakatso Sello, polisiewoordvoerder, sê Lucky Mshubi (36) en Thabo Mambika (31) is op 18 Februarie in die Johannesburg-hooggeregshof gevonnis.
Die twee is skuldig bevind aan moord, roof, huisbraak en ontvoering.
“Op 22 April 2021 het die twee verdagtes by die slagoffer se woonstel in Lenasia South ingebreek, haar ontvoer en met haar motor weggery,” sê kol. Sello.
Sers. Phillip Mofokeng het die ondersoek gelei en Mshubi is later in hegtenis geneem na hy in die besit van die slagoffer se besittings en haar motor gekry is.
“Verdere ondersoek het gelei tot die inhegtenisname van die tweede verdagte, Mambila, en die ontdekking van die slagoffer se liggaam, wat in ‘n vlak graf in Mshubi se erf gevind is.”



