’n “Daad van God” het Donderdag die ouervergadering by Hoërskool Jan Viljoen stopgesit toe Panyaza Lesufi met ouers by die skool wou praat oor die beweerde rassevoorval wat Vrydag by die skool plaasgevind het. So sê Willem Petzer, ’n aktivis teen plaasmoorde, wat Donderdag saam met die Bittereinders in Randfontein was.
Ses seuns is by die skool geskors na leerlinge glo handgemeen geraak het. Die voorval was glo rasgedrewe. Vier matriekleerlinge het glo Vrydag ’n leerling in graad 8 aangeval oor musiek wat gespeel is. Kort voor lank het daar bakleiery onder die leerlinge in die skool uitgebreek.
Daar word berig kort na die voorval is ’n stemboodskap van een van die leerlinge versprei waarin hy vra dat apartheid in die skool teruggebring word. Die k-woord is in die stemboodskap gebruik en die leerling het ook glo erken dat hy en sy vriende rassisties is.
Lesufi het Maandag gesê rassisme is die probleem by die skool.
Petzer, wat ’n verteenwoordiger vir die ouers by die ouervergadering sou wees, sê Lesufi wou hom aanvanklik nie inlaat nie. “Daar is 185 ouers by die skool wat ’n mandaat geteken het dat ek namens hulle met Lesufi sou praat.” Petzer sê na Lesufi geweier het om hom in te laat, het die ouers gestaak en gesê hulle weier dat die vergadering voortgaan voor hy nie ingelaat is om namens hulle te praat nie.
“Toe ek uiteindelik daar aankom en net so toe ek by die verhoog aankom, toe slaan die donderweer en daar is ’n geweldige donderstorm. Dit het gereën en die gazebo’s het weggewaai, die stoele het weggewaai en die podium het sommerso getol oor die rugbyveld.”
Die vergadering is toe uitgestel en Lesufi het later gesê dis omdat dit ’n buitelugvergadering was en die weerstoestande so sleg was.
Petzer sê die hele plek het oorstroom en dit het baie hard gereën. “Dit was ’n absolute daad van God,” sê hy. “Lesufi wou hierdie leerlinge se lewens verwoes. Hy wou die onderhoofseun as ’n voorbeeld gebruik om sy politiese agenda te dryf. Hierdie is die gewenste uitkoms. Nou het die ouers kans om ’n lys van ‘demands’ saam te stel om hierdie kinders so te help.”
Petzer sê die leerlinge by die skool met wie hy gepraat het, sê almal die onderhoofseun het probeer om ’n geveg op te breek tussen twee graad 8-leerlinge, toe hy as die sondebok uitgemaak is.
Volg FiND iT hier op Facebook.
Lees ook: ‘Hy probeer, maar dis moeilik’ – Kyle se vordering na diagnose



