Twee verdagtes het vanoggend met balaklawas en wapens glo probeer om ‘n winkel in die New Park-sentrum in Kimberley te beroof.
Volgens een van die omstanders het die mans glo probeer om iemand wat geld getrek het, te beroof.
FiND iT het met van die werknemers by die Cell C-winkel in die sentrum gepraat oor hulle ervaring.
Dré Louw sê hy was besig om ‘n kliënt te help, toe hy skielik ‘n oproer buite die winkel gehoor het. “Ek het gesien hoe twee mans met balaklawas en wapens met ander mans stoei,” sê hy. “Dit het gelyk asof hulle die wapens by die mans probeer afvat.”
Omdat Louw al van tevore die slagoffer was van ‘n gewapende roof, sê hy het hy eerder nie buite die winkel gaan kyk nie. “Ons het die winkel se deure toegemaak om onsself en die kliënte te beskerm. Later het ons net gesien die wapens is afgevat en die mans lê op die grond.”
Sadè van der Merwe, ook ‘n personeellid by Cell C, sê sy vermoed die polisie het ‘n anonieme wenk van iemand ontvang en só is die verdagtes gekeer voor hulle die roof kon uitvoer.
FiND iT het navraag gedoen by die polisie en wag nog vir terugvoer.



