Rassisme woed voort, beweer ouers

Deel hierdie storie / Share this story

Beweerde rassisme by skool lei tot optogte

Daar is blykbaar nog geen oplossing vir ‘n voorval by ‘n skool in Randfontein waar ouers Maandag slaags was oor beweerde rassisme by die skool nie. 

Die polisie het rubberkoeëls gebruik om ‘n skare gemeenskapslede uiteen te jaag met ouers wat beweer het hulle was nie kwaadwillig daar nie.

Geweld het Vrydag eers tussen swart en wit leerlinge by Hoërskool Jan Viljoen in Randfontein uitgebreek. Gemeenskapslede, ouers en skoolleerlinge het die paaie wat na die skool lei, versper.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het die skool besoek om in te gryp, maar is deur woedende ouers onderbreek.

Eyewitness News beweer hulle het met ouers gepraat wat gesê het die polisie het sonder enige rede met rubberkoeëls losgebrand.

“Ons het omstreeks 07:30 buite gesit toe hulle op ons begin skiet het, ons het hulle nie uitgelok nie. Hulle het net rubberkoeëls begin skiet.”

Die situasie bly gespanne, met die uitslag van ‘n vergadering tussen Lesufi, die skoolbeheerliggaam en opvoeders wat na verwagting binnekort aangekondig sal word.

Ouers het daarop aangedring dat die SBL ontbind en die skoolhoof geskors word na die voorval waartydens hulle beweer swart kinders onderdruk is.

Intussen het spanning hoog gebly met die drukgroep AfriForum en die polisie, asook ’n private sekuriteitsmaatskappy vroeër die dag op die toneel.