Man tydens huisroof doodgesteek

Deel hierdie storie / Share this story

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Lenasia-Suid is op soek na die drie onbekende verdagtes ná die messteek van ‘n man tydens ‘n huisroof in Lenasia op Maandag 14 Februarie.

Die slagoffer het glo pas van die werk af by die huis aangekom toe hy deur die verdagtes in die huis ingedwing is.

Sers. Khalipha Mvula, polisiewoordvoerder, sê die vrou van die slagoffer, wat tydens die voorval tuis was, is deur verdagtes met kabelbinders vasgebind voordat hulle die huis geplunder het.

Daar word berig elektriese toestelle en selfone is gesteel voordat die verdagtes weggehardloop het.

Die gille van die vrou is deur die bure gehoor, maar met hulle aankoms was haar man reeds dood en het sy liggaam in die swembad gelê.

“Die slagoffer het glo steekwonde aan die bolyf opgedoen en is op die toneel dood verklaar. ’n Saak van moord en huisroof is geopen soos die verdere ondersoek voortduur,” het Mvula bevestig. Die stasiebevelvoerder van Lenasia Suid SAPD, kol. Xaba, het die familie verseker die saak sal geprioritiseer word.