Meisie wat vermis was, het glo verdrink

Deel hierdie storie / Share this story

KLERKSDORP. – Die liggaam van ‘n 17-jarige meisie wat op 17 Januarie op Khuma vermis geraak het, is verlede week gevind.

Ao Amogelang Malwetse, polisiewoordvoerder, sê sy het moontlik verdrink. Haar lyk is deur ‘n skaapwagter naby die Malekuturivier ontdek. Sy het nog haar skoolklere aangehad, met haar rugsak op haar rug.

Die meisie, ‘n gr. 11-leerler, het by haar ma gebly en is laas op 17 Janaurie 2022 gesien nadat sy haar pa besoek het.

Malwetse het ‘n beroep op ouers gedoen om altyd te weet waar hulle kinders is. Veral mede-ouers moet ingelig word, sodat hulle kan weet het die kind veilig by die volgende blyplek aangekom.

“Weet altyd waar jou kind is. Gegewe die swaar reën wat die afgelope tyd tot vloede in baie dele van die land gelei het, word ouers versoek om nie kinders toe te laat om sonder toesig skool toe te loop nie. Hou hulle liewer by die huis en lig die skool in totdat dit veilig is om weer klasse by te woon,” het sy gesê.