Thulsie-tweeling gevonnis na terrorisme-aanklagte

Deel hierdie storie / Share this story

Die Thulsie-tweeling (28), wat van terrorisme aangekla word, het vandag ‘n pleiitooreenkoms met die staat aangegaan.

Die broers, Tony-Lee en Brandon-Lee, is aangekla vir sameswering met die Islamitiese Staat in Irak en die Levant. Ná byna ses jaar verhoorafwagtend in die tronk, het die Thulsie-tweeling Maandag skuld beken dat hulle Suid-Afrika probeer verlaat het om by die Islamitiese Staat in Sirië aan te sluit.

Tony-Lee het skuld beken dat hy saamgesweer het om terreuraanvalle teen buitelandse ambassades en plaaslike Joodse belange in Suid-Afrika uit te voer. Dit het vandag in die hooggeregshof in Johannesburg uitgekom, berig die Daily Maverick.

Ingevolge ‘n pleitooreenkoms met die aanklaer is Tony-Lee tot 11 jaar tronkstraf gevonnis en sy broer Brandon-Lee het agt jaar tronkstraf gekry.

Kyk die ENCA se beriggewing:

Hulle is reeds sedert Julie 2016 verhoorafwagtend in die tronk, so Tony-Lee sal effektief sowat vyf jaar uitdien en Brandon-Lee sowat twee jaar.

Tony-Lee en Brandon-Lee is in 2016 in hegtenis geneem ná klopjagte in verskeie dele van Gauteng. Die twee is gearresteer ná bewerings dat hulle met die jihadistiese groep Islamitiese Staat verbind word.

Die skuldigbevindings van die twee Johannesburgse broers in die Johannesburgse hooggeregshof was die eerste vir internasionale terrorisme onder die 2004 Wet op die Beskerming van Grondwetlike Demokrasie teen Terroriste en Verwante Aktiwiteite (Pocdatara) – kortweg bekend as die terrorismewet. Vorige veroordelings ingevolge die wet was teen plaaslike regses.