Die 38-jarige Yolandé Koupis, ‘n selfbestempelde “Jack of all trades”, is bekend vir die manier waarop sy ander vroue bemagtig, inspireer en motiveer.
Sy vier vanjaar haar tiende huweliksherdenking met George Koupis, ‘n besigheidsman in Bloemfontein, en hulle het twee kinders, Skylin (8) en Aris (5).
Yolandé balanseer haar persoonlike lewe en haar werkslewe op ‘n manier wat ‘n inspirasie vir baie ander vroue is. Sy het haar eie besighede en bevorder die hutsmerk #bossladybfn op baie platforms.

“Ek is mal daaroor om my eie #boss te wees,” vertel sy. “‘Brand’ en ‘marketing’ is my lewe, daarom my besigheid Perky Jams Marketing & Promotion.” Yolandé is ook mede-eienaar van Miss Free State South Africa saam met Anri Powell, maar haar talente hou nie daar op nie. “Ek het ook ‘n ‘health & wellness’- besigheid wat ek onder my eie naam bestuur om mense te help om gesonder te leef, gewig te verloor en ongelooflike transformasies te ervaar, in gesondheid en rykdom.” The Fitness Gang is ‘n instansie wat Yolandé saam met ‘n groep vroue het, wat hulle help om ‘n kopskuif in die lewe te maak, wat dan ook lei tot ‘n gesonder leefstyl en gewigsverlies.
Ná skool het Yolandé vir twee jaar in Londen gewoon waar sy vir ‘n Suid-Afrikaanse toerismebesigheid gewerk het. Na haar tyd daar verby was, het sy na SA teruggekeer om haar graad in bemarking en binnenshuise versiering te voltooi.
Vertel my van #BOSSLADY? Wat beteken dit vir jou?
“Wat ‘n ongelooflike reis,” sê Yolandé. “#BOSSLADY het begin as ‘n platform om vrouens te bemagtig en te inspireer. Voor Covid-19 toegeslaan het, het ons baie geleenthede gebied vir vroue om bymekaar te kom en net lewe oor mekaar te spreek. Daar is so baie daaglikse ‘issues’ en uitdagings en dis lekker om raad te ontvang en gevier te word.” Op die oomblik gebruik Yolandé die platform om net weer te inspireer en “lewe in mekaar te blaas”.
Hoe sal jy “woman empowerment” beskryf?
“‘Woman empowerment’ wissel van selfkrag tot doeltreffendheid bou van vroue. Ek glo dat jy jou stem moet gebruik!” Yolandé deel dan ‘n wenk: “Sê vir die vroue in jou lewe dat jy omgee.
Wil jy meisies en vroue aanmoedig en bemagtig? Begin reg in jou eie huis, werksplek en gemeenskap. Skryf ‘n briefie van dank aan daardie onderwyser wat jou jare gelede aangemoedig het, maak koffie vir daardie nuwe ma in jou kantoor wat sukkel om alles te balanseer, of vertel jou eie suster, dogter of ma hoeveel jy hulle waardeer.”
Sy sê alhoewel die dae van vir ‘n baas werk nog nie vir almal verby is nie, bied dit tog ‘n vlak van volledige outonomie, wat nie bereik word deur vir iemand anders te werk nie. “Een van die beste voordele om jou eie baas te wees, is dat jy nie net ‘n wonderlike werk en werksomgewing vir jouself kan skep nie, maar ook vir ander.”
Yolandé noem haarself sonder twyfel ‘n feminis. “Ek dink wel baie mense het die verkeerde persepsie van wat ‘n feminis eintlik is. Hierdie is hoe ek dit sien: ‘n Feminis wil nie ‘n man se rol oorneem nie, glad nie, maar ‘n feminis erken dat sy heel is op haar eie. Ek glo tog dat ons geskape is om saam te werk, maar vroue het ook regte! In werklikheid ondersteun feminisme nie seksisme teen enige geslag nie. Feminisme werk na gelykheid, nie vrouemeerderwaardigheid nie.”
Hoekom, voel jy, is dit belangrik vir vroue om te besef dat hulle vir hulself kan werk?
“Dis ongelooflik belangrik en ek wil dit van die hoogste berg af vir almal skree! Maak nie saak waar jy in jou lewe is nie, maak nie saak wat jy het, wat jy nie het nie, wat jy kan kry of wat jy verloor het nie. Deur weer jou krag terug te neem, om jouself weer te vind en in jouself te glo, maak jy jouself jou grootste ‘cheerleader’.”
Yolandé vertel syself is op ‘n selfontdekkingsreis en begin meer op haarself fokus. “Ek voel soos ‘n hele nuwe persoon. En ek sê nie dit het al my agtergrondgeraas weggeneem nie, maar dit help my op soveel verskillende plekke en vlakke in my lewe.”
Hoe maak jy seker dat jy elke dag die beste jy is?
“I show up and give the day everything I have to offer. Ek begin ook myself leer ‘Don’t sweat the small stuff’. Dis moeilik, maar dit kan jou baie vinnig demotiveer en jou aandag steel as jy dit sou toelaat.”
Hoe hanteer jy ‘n af dag?
“Hier is my twee sent, en ek leer ook nog. Gebruik die 10 jaar plan. Wanneer jy voor moeilike situasies te staan kom, vra jouself: ‘Sal dit oor 10 dae saakmaak? 10 maande? 10 jaar? Die kans is groot dat dit nie sal nie. Moenie dat klein goed jou ontstel of onderkry nie. Hou jou oë op die groter prentjie.”
Yolandé sê as sy drie dinge in die wêreld kon verander, dit sou wees: rassisme, menslike gierigheid en om alles wat vir haar sleg is, vir haar goed te maak.
“Moenie bang wees om namens jouself te praat nie. Hou aan veg vir jou drome!
Jy is meer ‘powerful; as wat jy dink – en jy is ‘beautiful’ net soos jy is.
Jy is uniek. Ons almal het ‘n vuur binne ons, soms het ons net hulp nodig om die vuur aan die brand te kry – ‘But honey, once you burn, people will drive miles to see the light!'”



