Vrou met 44 kinders by een man maak kinders alleen groot

Deel hierdie storie / Share this story

Mariam Nabatanzi, ‘n vrou wat 44 kinders in die lewe gebring het teen die tyd dat sy 40 was, sê sy moes oor die jare baie verskillende vaardighede baasraak om na haar kinders te kan omsien.

Nabatanzi, wat in Uganda woon, is op die ouderdom van 13 jaar oud met ‘n man wat 27 jaar ouer as sy was, getroud. Haar ouers het haar vir die man gegee en ‘n jaar later het sy haar eerste babas, ‘n tweeling, die wêreld ingebring.

In die daaropvolgende jaar het sy geboorte gegee aan ‘n drieling en in ‘n ander jaar was daar ‘n vierling.

Mariam se huwelik was ‘n moeilike tyd. “My man het baie kinders uit vorige verhoudings gehad en ek moes na hulle ook omsien. Hy was baie gewelddadig en sou my by elke geleentheid slaan of seermaak, selfs as ek net iets voorgestel het waarvan hy nie gehou het nie,” het sy gesê.

Daar was ‘n stadium toe Mariam, wat reeds 23 kinders gehad het, besluit het sy wil nie nog kinders hê nie. Sy het glo ‘n dokter gaan sien oor ‘n sterilisasie, maar ná ‘n intensiewe ondersoek het die dokter gesê sy het ‘n “hoë ovaria-telling” en dat die prosedure “haar gesondheid en haar lewe in gevaar sou stel”.

Sy het altesaam aan 44 kinders geboorte gegee – ses tweelinge, vier drielinge en drie stelle vierlinge. Daar was ook ses kinders wat oorlede is. Sy sê dat sy glad nie spyt is nie en om kinders te hê ‘n seëning van God is.

Mariam se man het soms vir maande of selfs jare net verdwyn en haar heeltemal alleen gelos. Sy sê hy was op geen manier deel van die kinders se grootwordjare nie, behalwe dat hy soms vir hulle name gegee het, in party scenarios sommer oor die foon. Die oudste seun, wat vandag 23 is, sê hy het sy pa laas gesien toe hy 13 jaar oud was.

Mariam het haar lewe aan haar kinders toegewy en sê sy moes oor die jare baie verskillende vaardighede baasraak om na hulle te kan omsien. Sy maak kruie bymekaar om te verkoop, bak koeke, lê bakstene en doen selfs bruide se hare.

Kassim Kayira, voormalige BBC-joernalis, het van Mariam se storie gehoor en daaroor berig.

Mariam se boodskap aan ander:

“Hou op om jou dogters aan mans te verkoop vir vroeë huwelike. Hulle kry te swaar en die verlies van ouerliefde is iets waarvan hulle nooit sal herstel nie.” – Brightside, Mirror, The Sentinel

Volg FiND iT hier op Facebook.

Lees ook: Swakopmund-egpaar wat selfdood pleeg, geïdentifiseer