NSRI help perde oor oorstroomde Oranjerivier

Deel hierdie storie / Share this story

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het onlangs ‘n groep perde oor ‘n oorstroomde Oranjerivier gehelp.

Die NSRI sê hulle is Donderdag om 12:30 in kennis gestel van perde wat op ‘n klein eiland op die Oranjerivier in die Richtersveld vasgekeer is.

Hugo Foot, stasiebevelvoerder vir NSRI Port Nolloth, sê die rivier was oorvol en steeds besig om te styg as gevolg van swaar reën.

“Ons grootste bekommernis was dat een van die perde vasgemaak was en nie sou kon losbreek as die vloedwaters bo die eiland sou styg nie,” sê Foot.

Die NSRI-span wat in die area werk, is na die toneel ontbied om ondersoek in te stel terwyl die seereddingsvaartuig voorberei het om die 80 km tot by die Oranjerivier gesleep te word.

“Ons het die klein eiland bereik waar NSRI-swemmers, die eienaar van die perde en omstanders deur die water, wat ongeveer 1 – 1,5 m diep was, na ‘n groter eiland geloop het.”

Daar was ‘n gaping van 600 m tussen die eilande en die reddingswemmers het die perde deurgehelp.

Ander vee soos beeste en ander perde was toe reeds op die groter eiland en buite gevaar.

Lees ook: Swakopmund-egpaar wat selfdood pleeg, geïdentifiseer