Solidariteit en AfriForum bedien hofstukke oor ramptoestand

Deel hierdie storie / Share this story

Solidariteit en AfriForum het vandag onderskeidelik hofstukke beteken waarin dié organisasies die howe gaan versoek om die voortsetting van die huidige ramptoestand ongeldig te verklaar.

Solidariteit voer in sy hofstukke aan dat die deurlopende verlenging van die ramptoestand irrasioneel en geweldig skadelik vir die ekonomie sowel as sosiale en politieke norme in Suid-Afrika is.

“Deur sy eie verslapping van regulasies kondig die regering eintlik reeds aan dat die ramp verby is. Die Rampbestuurswet was nog altyd bedoel om ʼn drastiese, dog baie kort toestand daar te stel – juis om die regering toe te laat om vinnig te beweeg,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. “Dit is absurd dat die regerende party ons in ʼn bykans permanente semi-outokrasie hou bloot omdat hulle tot vandag toe geen noemenswaardige bykomende kapasiteit by hospitale geskep het nie.”

Solidariteit verduidelik dat ʼn afskaffing van die ramptoestand nie impliseer dat die virus verdwyn het nie; dit beteken bloot dat die rampspoedige gevolge wat ʼn aanvanklike inperking geregverdig het, nie meer bestaan nie.

“Dit gaan nie daaroor of ons nou finaal klaar is met die virus of dat die virus verdwyn het nie. As dit die maatstaf is, dan sal ons vir ewig gebuk gaan onder ʼn bevelsraad met weinig wigte en teenwigte om dié raad te reguleer. Die punt is dat Covid-19 nou sonder hierdie drastiese maatreëls hanteerbaar is. Alle aanduidings dui daarop dat die siekte nou endemies is. Die virus sal nog lank met ons wees maar die ramp is verby. Om egter nou hardnekkig aan die ramptoestand te klou sal egter op sigself rampspoedig wees,” argumenteer Hermann.

Volgens Solidariteit maak die Rampbestuurswet nie voorsiening vir voorkomende optrede nie en kan dit slegs aangewend word om ʼn dreigende, aktiewe ramp te bestuur.

“Die voortsetting van die ramptoestand gebaseer op die beginsel dat daar dalk weer ʼn vlaag in die toekoms mag wees, is ooglopend waansinnig. Hoe sal ʼn mens volgens daardie logika ooit weer na ʼn funksionerende demokrasie terugkeer?” stel Hermann dit. “Dit is tyd om ʼn einde te maak aan die bevelsraad, mense te bemagtig om hul eie besluite te neem en die ontwrigtende onsekerheid wat ons ekonomie lamlê, te stuit.”

*PERSVERKLARING

Lees ook: Dlamini-Zuma ‘berei voor om ramptoestand te beëindig’

Volg FiND iT hier.