Die ontdekking van ‘n ma se geraamte wat haar baba in ‘n gedeelde graf vashou, mag dalk een van die spesiaalste ontdekkings nog wees.
Argeoloë was besig om ‘n prehistoriese Taiwanese massagraf in Taichung op te grawe toe hulle op die 4 800 jaar oue oorblyfsels van ‘n ma en haar baba afgekom het.
Die ma en baba was twee van 48 geraamtes wat in 2014 ontdek is.
Hierdie argeologiese uitvindsels blyk die eerste teken te wees van menslike aktiwiteit wat in Taiwan ontdek is.
“Toe die ma en baba opgegrawe is, was al die argeoloë en personeel geskok,” het dr. Chu Whei-lee, kurator en direkteur by die antropologie-departement by Taiwan se Nasionale Museum van Natuurwetenskappe, aan Reuters gesê.
“Hoekom? Want die ma het afgekyk na die baba in haar arms.”
Die ma was ‘n jong vrou tussen die ouderdom van 20 en 25 jaar oud en ongeveer 1,6 m lank. Sy het ‘n baba in haar linkerarm vasgehou en afgekyk na hom/haar.
Argeoloë het aanvanklik gedink die baba is dood van ‘n miskraam of moeilike geboorte, maar kon later vasstel die beendere is dié van ‘n baba van ongeveer ses maande oud. Die ma en baba is vermoedelik saam oorlede.
Hoe hulle dood is, bly ‘n raaisel. – PregnantLife, Reuters
Volg FiND iT hier op Facebook.
Lees ook: Seuntjie (8) skryf sy eie boek en steek dit in biblioteek weg vir mense om te lees



