Jean-Mari (36) en Awie (35) Smit van Robertson in die Wes-Kaap is op soek na ‘n surrogaatmamma om hulle droom om ‘n kindjie van hul eie te hê, waar te maak.
FiND iT het ‘n bietjie met Jean-Mari, wat as grondslagfase-juffrou werk, gesels.
Jean-Mari is in 2013 met ‘n baie seldsame toestand, Pompe se siekte, gediagnoseer. Dié siekte het haar diafragma verlam en haar longkapasiteit na slegs 40% verlaag. Sy vertel sy ervaar ook verswakking vanaf haar heupe tot by haar bene, maar dat sy steeds kan loop en skoolgee en elke dag voluit leef.
Sy vertel sy en Awie het in 2021 begin om hulle opsies om ‘n surrogaatmamma te kry, begin oorweeg. “Omdat ons in die middel van die Covid-19-pandemie was, was dit maar moeilik om plekke te kry.”
Sy sê sy en Awie was reeds by hulle eerste afspraak by ‘n fertiliteitskliniek, maar dat daar baie dokumente is wat opgetrek, deurgelees en geteken moet word, en hulle nie met die proses kan voortgaan voor hulle nie die ma opgespoor het wat hulle babatjie sal dra nie.
Sy vertel hulle is baie opgewonde om ‘n babatjie van hul eie te hê. “Ek is nou al vir 13 jaar ‘n juffrou en my ma het ook vir 36 jaar al ‘n speelskool. Ek het ‘n spesiale plekkie vir kinders en kinders weet ook altyd as ons kom kuier, word hulle lekker bederf!”
Sy sê dit was vir haar baie erg om te moes aanvaar dat sy nooit self haar eie baba sou kon dra nie.
“My longkapasiteit is te swak en om self swanger te raak, kan my en die baba se lewens op die ou end eis. Medies gesproke mag en kan ek dus nie my eie baba baar nie.”
Sy sê Awie is ‘n ongelooflike man wat haar baie ondersteun en dat hulle baie dankbaar is vir die opsie van ‘n surrogaatma.
Oor die proses om ‘n mamma te kies, sê sy dat hulle die paartjie graag sou wou ontmoet. “Ek glo en vertrou die Here sal met ons praat en vir ons sê hierdie is die mamma wat ons gaan help.”
“Ons droom en grootste wens is om ook eendag ‘n gesin te wees, maar ons het hulp nodig van ‘n mamma daar buite wat bereid is om ons te help.
“Ons het ‘n leenmamma nodig – iemand wat bereid is om ons baba te dra. ‘n Mamma wat hierdie groot opoffering bereid is om vir ons te maak, wat haar alles sal gee om ons te help.
“Hierdie is nie iets wat enige mens net bereid is om aan te pak nie. Ek glo dat wanneer die regte mamma wat bereid is om ons te help hierdie post lees, God met haar hart sal praat.”
Verder noem sy dan die vereistes vir so ‘n surrogaatmamma:
- iemand in die Kaap-omgewing omdat ons fertiliteitskliniek daar is of ‘n dorp naby Robertson-omgewing
- Nie-roker
** goeie gesondheid, geen kroniese siektes
** BMI van 30 en minder
** moet reeds ‘n kind of kinders van haar eie hê - nie ouer as 38 nie
- eie vervoer
- werkend
- getroud en jou man moet jou 100% ondersteun, of geskei
- kind van Jesus wees
**geen komplikasies tydens ‘n vorige swangerskap nie
Hulle dek die kostes van ‘n leenmamma:
- mediese fonds vir ‘n jaar
- swangerskapsklere
- vervoerkostes ensovoorts
Indien jy voel dat jy hulle kan help, kontak Jean-Mari by 0727445484.
Volg FiND iT hier op Facebook.
Lees ook: Klein Mienke word 5 in die hemel



