Egpaar pleeg saam selfdood, maak troeteldiere ook dood

Deel hierdie storie / Share this story

“Moenie by ons slaapkamer inkom nie. Bel die paramedici.” So lui ‘n nota wat by die voordeur van ‘n egpaar van Swakopmund gelos is voor hulle eers hulle troeteldiere en toe hulself om die lewe gebring het.

Luidens The Namibian het ‘n kollega van die egpaar vroeg Sondagoggend op die tragiese toneel afgekom.

Insp. Eleni Shapumba, Erongo-polisiewoordvoerder, het Sondag gesê ondersoekers is op die toneel om vas te stel presies wat gebeur het en hoe die egpaar en hulle troeteldiere dood is.

The Namibian berig ‘n voorlopige ondersoek dui daarop dat die egpaar Saterdag met ‘n plaaslike veearts kontak gemaak het om uit te vind oor troeteldiermedisyne.

Ondersoekers het glo troeteldiermedisyne en leë koppies op die toneel gevind.

Volgens New Era Live word daar vermoed die egpaar is van Suid-Afrika en Londen afkomstig en het in Swakopmund gewerk, maar die polisie kan nog nie hulle identiteit bekendmaak nie.

“Ons kan nie inligting of die identiteit van die persone betrokke bekendmaak voor ons met hulle familie in kontak was nie,” het Shapumba gesê.

Die vrou het glo die vorige dag in ‘n boodskap aan die kollega gesê as hulle die volgende dag nie by die werk aankom nie, hulle na hul huis moet gaan.

Volgens inligting van die kollega wat na aan die egpaar was, was die man terminaal siek met kanker. “Hulle was ‘n lieflike egpaar en sy was bang om sonder hom te leef. Ek dink dis vrees wat daartoe gelei het dat hulle hul lewens geneem het,” het die kollega gesê.

Nog ‘n bron na aan die egpaar het op sosiale media geskryf dat die hulle wel briewe gelos het vir die persone na aan hulle.

“Hulle wou nie ‘n las op enigiemand wees om na hulle diere ook om te sien nie.”

Saltiel Kalola, ‘n berader, het gesê dié geval van selfdood is baie kompleks en dat al die feite ondersoek moet word.

Die saak word ondersoek. Hou FiND iT dop vir meer hieroor. – New Era Live, Replublikein, The Namibian

Indien jy of enigeen wat jy ken hulp nodig het, skakel die Suicide Crisis Helpline by 0800 12 13 14.

Volg FiND iT hier op Facebook.