Swak dienslewering: Ons strate is vol vullis, rioolwater & slaggate

Deel hierdie storie / Share this story

Swak dienslewering in en om die Mangaung-metro en ook die res van die areas in ons land is vir baie landsburgers ‘n ernstige bekommernis.

Mense van oraloor kla oor dieselfde kwessies: swak dienslewering, slaggate, besoedelde drinkwater, leë krane, verstopte en oorstroomde rioolstelsels, kragonderbrekings…

Heinrich Meyer, lid van die AfriForum Langenhovenpark-buurtwag, sê inwoners in die omgewing betaal uit hul eie sakke vir dienste soos vullisverwydering. “Ek self het ‘n besigheid in die buurt en dit beïnvloed ons erg. Slaggate word nie herstel nie, straatligte word nie reggemaak nie, stormwaterdreine oorspoel. Onlangs het ons huis selfs oorspoel en ons moes kaste vervang en skade herstel.”

Heinrich sê hy en sy gesin was gelukkig nie by die huis nie, dus was daar nie van die kinders se skoolboeke ensovoorts wat vervang moes word nie. “Dis ook nie lekker om te weet as jy na ‘n lang dag by die huis kom, jy sulke dinge moet hanteer nie!”

‘n Inwoner wat graag anoniem wil bly, sê ook die basiese dienslewering in Bloemfontein oor die algemeen is ‘n probleem. “As jy rondry in die stad, sien jy hoe vuil dit is en hoeveel rommel rondlê. Die slaggate is ook ‘n groot probleem.”

Hy sê vir vakansiegangers of gaste in Bloemfontein is dit ook baie sleg om deur die strate te ry, vir slaggate uit te swaai en te sien hoe vuil dit is.

Hy self het al baie keer deur slaggate gery, veral in die straat van Langenhovenpark op pad na die dorp.

Japie Van Tonder, ook ‘n inwoner van Langenhovenpark in die stad, sê die veiligheidsaspek is vir hom ‘n groot probleem.

“In die laaste tyd het ons as inwoners baie probleme met verdagte persone wat erwe en selfs inwoners se dakke hulle woonplek maak.”

Behalwe vir die feit dat baie vroue en kinders in die omgewing woon en baie vroue soms alleen na plekke soos die poskantoor toe moet gaan, word die bosse en grasse glad nie gesny en in stand gehou nie.

“Dit skep dan natuurlik weer die probleem van veiligheid, omdat jy as inwoner nie kan sien wanneer ‘n verdagte persoon vanuit die bosse in jou rigting aankom nie.”

Die veiligheidsaspek van die verdagtes wat op mense se eiendom woon, is nie al probleem nie. Japie sê dit hou ook ‘n gesondheidsrisiko in. “Baie van dié mense het nie die geriewe wat ons het om badkamer toe te gaan of higiëne toe te pas nie, en so besoedel hulle ook die omgewing.”

“En hierdie verdagtes is arrogant. Niks keer hulle nie.”

Hy sê alhoewel inwoners onveilig voel met die verdagtes wat in en om die omgewing slaap en woon, hulle tog voel asof hulle nie alleen is nie. “Te danke aan die verskeie buurtwaggroepe wat spoedig reageer as daar inligting deurkom van ‘n verdagte persoon iewers, voel ons tog meer gerusgestel.”