Die liggaam van ‘n 30-jarige man is Maandagoggend deur Breedevallei-munisipaliteitspersoneel in die De la Bat-swembad op Worcester gevind.
Die oorledene en sy familie het die munisipale swembad in De la Bat-straat in Worcester besoek toe hy vermis geraak het. Volgens die Breedevallei-munisipaliteit het sy familie die lewensredder aan diens gevra om na hom op die perseel te help soek.
Volgens die aanvanklike verslag wat die plaaslike polisie ontvang het, het die lewensredder in die swembad gesoek om te kyk of die oorledene nie dalk in die swembad is nie, sê die munisipaliteit.
“Daar was ook ‘n soektog om vas te stel of die oorledene teen toemaaktyd nog op die perseel was. Die lewensredder het selfs in die swembad geduik om te kyk of hy die oorledene sien.”
Die soektog het egter nie enige positiewe uitkoms gehad nie en die familie het teruggekeer huis toe om die soektog voort te sit, terwyl personeel voortgegaan het om die swembad en die perseel skoon te maak vir die volgende dag.
Die familie het die volgende oggend weer na die swembad teruggekeer en die lewensredder ingelig dat hulle nog nie die oorledene kon opspoor nie. Hulle het die span versoek om weer die perseel te deursoek.
Volgens die munisipaliteit het die lewensredder weer aan die diepkant van die swembad ingeduik om na die oorledene te soek, maar tevergeefs. Die familie is aangeraai om die polisie te kontak.
Die oorledene is as vermis aangemeld. Toe die swembad Sondag weer toemaak, was die water helderblou en skoon, het die munisipaliteit gesê. Maandagoggend om 07:10 het hulle die oorledene se liggaam op die water sien dryf.
Die plaaslike polisie en ander owerhede is na die toneel uitgeroep en die oorledene se liggaam is uit die water gehaal. Hy is later as die vermiste man geïdentifiseer.
“Hierdie tragiese gebeurtenis het nie net trauma vir die familie veroorsaak nie, maar ook die personeel by die De la Bat-swembad. Alle personeel, insluitend die lewensredder, is goed opgelei om hulle pligte uit te voer.”
Die lewensredder is een van die bestes in die munisipale streek met 12 jaar ervaring by die einste swembad, sê die munisipale woordvoerder.
“Breedevallei-munisipaliteit dra sy innige meegevoel oor aan die familie en breër gemeenskap wat deur die tragiese gebeurtenis geraak word.”
Lees ook: Raaisel oor Keegan se verdwyning na 2 j. nog nie opgelos nie



