Raaisel oor Keegan se verdwyning na 2 j. nog nie opgelos

Deel hierdie storie / Share this story

Die toe 25-jarige Keegan du Plooy het twee jaar gelede vermis geraak ná hy in die hof in Pretoria-Noord verskyn het.

Die raaisel agter Keegan (nou 27) se verdwyning is na twee jaar steeds nie opgelos nie.

Lynda du Plooy, Keegan se ma, vertel Keegen is op 29 Februarie 2020 die laaste keer deur familie gesien. “Hy was vir vyf maande in aanhouding tot hy op 23 Julie in die hof verskyn het. Dit was die laaste keer wat enigiemand van hom gehoor het.”

Alhoewel die hofdokumente wys dat Keegen in die hof verskyn het, is daar geen beeldmateriaal of bewyse wat die hof kan lewer wat wys dat hy wel daar was nie.

Keegan se selfoon en beursie is ook by die polisiestasie as bewyse ingedien en ná hy in die hof verskyn het, het hy dit nooit gaan haal nie.

Lynda sê Keegan is wel as vermis aangemeld, maar niemand het nog sedert sy verdwyning ‘n woord van hom gehoor nie. “Dit was Covid-19 en inperking en daarom het ek eers ses weke na sy hofverskyning gebel om uit te vind wat met sy hofsaak gebeur het. Dis toe dat hulle vir my gesê het hy het reeds in die hof verskyn.”

Lynda sê Keegan was baie na aan sy familie en dat dit daarom vreemd is dat hy nog glad nie kontak gemaak het nie.

“Keegan het nooit ‘n verjaardag gemis nie. Hy was altyd hier om op sy verjaardag te kom koek eet. Dit was ook intussen sy sussies se 16de en 21ste en hy het ook die geboorte van sy sussie se kind gemis. En hy het geweet sy was swanger,” sê Lynda.

Lynda sê Keegan het nie haar selfoonnommer uit sy kop uit geken nie.

Keegan het probleme met sy been na hy in ‘n motorongeluk was en hy loop dus mank. Hy het ten tye van sy verdwyning ‘n swart Puma-sweetpak, ‘n swart hemp en blou Tommie-tekkies aangehad.

Indien jy hom iewers gewaar of enige inligting het oor sy verdwyning, kontak adj. off. Dries Momberg by 083 419 9766 of Mike Venter by 067 371 3564.

Volg FiND iT hier op Facebook.