Die 26ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) sal vanjaar in Maart/April plaasvind en jy kan dié Kunstefees slegs bywoon indien jy teen Covid-19 ingeënt is.
Crispin Sonn, voorsitter van die KKNK-direksie, sê in ‘n verklaring die fees is verheug omdat hy ná twee jaar weer die kunstefees kan aanbied.
Hy sê hulle is baie opgewonde en staan gereed om feesgangers en kunstenaars van heinde en verre op Oudtshoorn te verwelkom en te vermaak. “Soos oudergewoonte by alle byeenkomste, gaan streng Covid-19-maatreëls toegepas word, sodat ons na die veiligheid van feesgangers, kunstenaars en personeel kan omsien en op ’n verantwoordelike manier kan saamkuier,” sê Sonn.
“Dit is nie maklik om ’n fees, waar mense in noue kontak met mekaar moet omgaan, aan te bied én steeds die veiligheidsfaktor toe te pas, sonder dat ons aan sekere sleutelmaatreëls sal moet voldoen nie. Dit sluit in dat ons ’n inentingsmandaat sal toepas wat beide in akkoord en ter ondersteuning is van die huidige nasionale beweging, en wat ook deur ons borge ondersteun word.”
Sonn sê feesgangers is lief vir die kunste en hulle twyfel nie dat feesgangers sal verstaan hoe belangrik hierdie vereiste is nie – wat hulle toelaat om hoegenaamd fees te kan hou.
Alle maatreëls, voorwaardes en prosedures wat voor en tydens die fees gevolg gaan word, word binnekort op die KKNK se webblad by www.kknk.co.za beskikbaar gestel. Hierdie riglyne gaan streng tydens die fees deur alle betrokkenes en besoekers gevolg moet word om sodoende almal se veiligheid te verseker.
Volg FiND iT hier op Facebook.
Lees ook: ‘Bekeer jou as jy na Meatloaf se musiek geluister het,’ sê Rooies Strauss



