Meer as ‘n honderd mense het Saterdag in die omgewing van Schoenmakerskop gesoek na Silvia Wittal (45), wie se motor verlate gevind is na sy op 30 Desember verdwyn het.
Louise van Rensburg, stigter en voorsitter van die buurtwag Alert Watch, Sherwood and Surroundings het lede van die gemeenskap bymekaargebring vir dié soektog.
Silvia, ‘n Duitse onderwyseres en die ma van twee tieners, is op 30 Desember laas gesien toe sy haar huis in Richmond Hill verlaat het.
Van Rensburg sê die gemeenskapslede is in verskillende groepe opgedeel wat dan verskillende dele van die omgewing deursoek het.
“Ons het ‘n paar plakkies wat ongelukkig ‘n kleiner grootte as dié van Silvia is, gevind. Ons het verder geskeurde klere gekry.”
Die veiligheidsmaatskappye Fidelity ADT en Dark Water Ops (DWO) het ook tydens die soektog bystand gelewer.
Van Rensburg sê een lid van die soekgroepe het op ‘n onbekende grot afgekom. “Daar is vermoedelik dierebene in die grot gevind, maar dit sal nou verder ondersoek word om vas te stel of dit wel dié van diere is.”
Dieselfde buurtwag het voorheen ook gehelp met die soektog na die vermiste Adriaan Scheepers, ‘n inwoner wat in September 2020 verdwyn het.
FiND iT het voorheen berig die polisie is intussen ook op soek na haar en doen ‘n beroep op die gemeenskap om met enige inligting oor waar sy kan wees, na vore te kom.
Indien jy enige inligting het of die polisie in hul soektog kan ondersteun, kontak konst. Johannes Meyer by 073 688 9595.
Jy kan Van Rensburg hier ook skakel met enige inligting: 0722956015





