Kyra (4) bly glimlag na kankerdiagnose, behandeling en chemo

Deel hierdie storie / Share this story

Kyra Venter (4) is op die ouderdom van vyf maande met kanker gediagnoseer.

Kort voor lank is klein Kyra deur verskeie behandelings, operasies, chemoterapie en bestraling om van die kanker ontslae te raak. Na haar eerste verjaarsdag is die gewas uitgesny, sy het behandeling gekry vir die kolletjies op haar lewer, sy het chemoterapie ondergaan en ook in 2020 ‘n beenmurgoorplanting gekry. Alles dinge wat so ‘n klein kindjie nog nie moet deurgaan nie.

Haar ma, Mandi (36), vertel hoe klein Kyra, ten spyte van haar omstandighede, deurentyd ‘n glimlag op haar gesiggie gehad en sterk gebly het.

Kyra is nou ‘n jaar en drie maande in remissie en Mandi sê hulle is verskriklik dankbaar. “Dit was maar moeilik vir ons. Wanneer ek nou terugkyk na die foto’s van vier jaar gelede en ek sien hoe Kyra vir chemobehandeling ingegaan het, raak my hart so seer. Sy is só ‘n gelukkige kind en sy hanteer dit so goed.”

Mandi vertel hoe die dokter vir haar gesê het Kyra is so op en aan die gang dat dit nie eers lyk asof sy chemoterapie ontvang nie. “Ek het vir die dokter gesê die drup lek seker of iets!”

Kyra se diagnose en die pad wat sy en haar gesin tot nou toe gestap het, het nie net haar lewe beïnvloed nie, maar ook dié van haar ma. “Sy het my so baie geleer van geloof en wat dit is om sterk te wees en sterk te bly. Al is sy so klein en het sy haar haartjies verloor en soms opgegooi en siek geraak, het sy heeltyd so sterk gebly. Sy het elke dag geglimlag.”

Klein Kyra kan nou al skool toe gaan en met maatjies speel, maar Mandi sê dit was nie altyd die geval nie. “Ek het intussen geleer dat alhoewel dit vir mý erg was dat sy heeltyd in die hospitaal was en nie by maatjies kon speel nie, dit vir haar normaal was. En sy was gelukkig.”

Mandi vertel ook hoeveel sy nou Kyra se “tantrums” en stout-wees waardeer. “Dit sal dalk vreemd klink vir baie ander ouers. As jy ‘n kind het en jy nie weet of jy haar gaan verloor nie, dan kners jy maar op jou tande en sê dankie sy is gesond.”

Die tipe kanker waarmee Kyra gediagnoseer is, het ‘n 50% kans op terugval, vertel Mandi. Sy maak hierdie jaar klaar met behandeling wat sy oorsee moet ontvang. Dié gereelde besoeke aan die dokter kos ‘n geweldige klomp geld en hulle het intussen verskeie maniere probeer om geld in te samel om dié kostes te dek.

“Die behandeling verlaag die kanse dat die kanker kan terugkom van 50% na 15%. Ons kan dit nie nié doen nie. Jy doen wat jy kan vir jou kind.”

Arms of Mercy is ‘n organisasie wat armbandjies verkoop om kinders en ook volwassenes se mediese uitgawes te dek. Mandi vertel elke persoon se armbandjie lyk anders en dat Kyra s’n turkoois en babapers is. Indien jy ‘n armbandjie wil bestel en op dié manier help om mediese onkostes te dek, skakel vir O’lene Botha by 079 676 2906.

Mandi se raad aan ouers met kinders wat ook gediagnoseer is:

Hou vas aan die Here. Moet nooit hoop verloor nie. Glo en vertrou. Jy moet sterk bly vir jou kind. Jou eerste prioriteit bly jou kinders, gesond of siek. Moenie skaam wees om te vra vir hulp of om iets vir jouself te doen nie. Dis nie lekker nie en jy dink dis ‘n doodsvonnis, maar dit is nie. Solank daar lewe is, is daar hoop. ‘You don’t know how strong you are until it’s the only option you have.”