Annette Kasselman, Mrs. SA van 2007, is al vir bykans 15 jaar in Bloemfontein en sê die lekkerste deel van die Rosestad is dat jy hier stad en platteland alles in een kry. “Bloem en sy mense kom kruip diep in jou hart en is baie besorgd oor almal se welstand.”
Annette is byna 30 jaar getroud met haar man, Chris, en hulle het twee (eintlik drie) kinders. Lesya (28) en Annette se skoonseun Henco Nel woon in Perth in Australië en hulle seun, Tokkie (25) werk ook in Bloemfontein by ‘n groot finansiële instansie.
“Ons kinders is ons wêreld en ons voel so geseënd om hulle deel van ons lewens te mag hê. Ons is baie geheg aan mekaar, alhoewel ons mekaar nie gereeld in die vlees sien nie, maar wel op die klein skermpie.”
Annette is die mede-eienaar, direkteur en eiendomspraktisyn by ‘n eiendomsagentskap in Bloemfontein. As sy nié by die werk is nie, is Annette ook ‘n gewilde sosialemediabeïnvloeder.
“Voor sosiale media was ek aangewese op die gedrukte media. Koerante en tydskrifte was vir my baie goed en het gereeld oor my, my gesin en ons doen en late berig. Ek het steeds die duisende koerantuitknipsels in ‘n plakboek in my kas, wat oor jare heen strek.”
Annette sê tydens haar kroningsjare as Mrs. SA het sy al by sosiale media betrokke geraak, bloot dat sy met die vriende wat sy vroeër by Mrs World ontmoet het, in kontak kon bly.
Na die kroning het Annette en haar gesin se lewens drasties verander. “Dit het ongelooflik baie deure oopgemaak vir my, my man en ons kinders. Soms was daar harde tye en soms hang mense steeds die “Beauty Queen”-etiket om jou nek, maar ek het verlief geneem daarmee en is dankbaar dat ek steeds onthou word vir daardie spesiale titel.”
Annette is deesdae ‘n gewilde sosialemediabeïnvloeder en sê dit voel vir haar asof sy dit van die begin af doen. “Na die kroning en met die begin van my sosialemedia-tog het mense dit half van my verwag om my lewe met hulle te deel op sosiale media, en ek doen dit graag. Ek deel nie net die positiewe in my lewe nie, maar ook die alledaagse gebeure, die hartseer, my oomblikke wanneer ek stukkend is, my oomblikke sonder grimering, my ‘glamorous’ oomblikke, my betrokkenheid by die gemeenskap, maar ook my familie.”
Annette vertel sy probeer meer wees as net ‘n beïnvloeder. “As ek ‘n plasing maak, probeer ek altyd om positief en interaktief te wees. Dis vir my lekker om ‘n gesprek uit te lok op sosiale media en om sodoende meer van my volgelinge en medemens uit te vind. Ek probeer regtig belangstel.”
Annette sê sy voel dat sosiale media haar steeds laat voel asof sy “deel” is van haar kinders se lewens. “Omdat van ons kinders oorsee is, hou ek graag hul sosiale media dop om te sien wat daagliks in hul lewens aangaan. So voel ons almal steeds deel van mekaar se daaglikse bestaan en mis ons niks nie!”
Annette maak nie net van sosiale media gebruik om haar lewe met haar volgelinge te deel nie, maar gebruik dit ook vir werks- en bemarkingsdoeleindes.
Sy noem ook dat dit vir haar belangrik is om nie te veel tyd op sosiale media deur te bring nie en dat sy haar tyd beperk sodat dit nie te veel van haar dag in beslag neem nie.
Annette sê om met haar titel saam ‘n beïnvloeder op sosiale media te wees, plaas ‘n groot verantwoordelikheid en voorreg op jou skouers om ander te inspireer. “En ek leef daarvoor! Dis vir my van kardinale belang dat ek altyd ‘n positiewe boodskap uitstuur en aan my volgelinge die regte ek blootstel en nie altyd die perfekte een nie.”
Annette sê sy glo aan “paying it forward” en sê dit maak haar gelukkig as sy iets wat sy deur die jare heen kon opbou, met ander kan deel.
“I make a living by what I get, but I make a life by what I give.”
Haar raad aan ander jong, opkomende sosialemediabeïnvloeders:
“Doen dit omdat dit vir jou ‘n passie is en vir jou lekker is. Doen dit om ‘n verskil in iemand anders se lewe te maak. Doen dit om jou gemeenskap op te lig. Doen dit om jouself te herontdek. As jy deelneem aan ‘n ‘pageant’, bestaan die kans altyd dat jy dalk nie die kroon gaan wen nie. Gebruik steeds die platform en maak dit deel van jou lewe om terug te gee aan jou gemeenskap en vir ander ‘n beter lewe daardeur te skep. Dit gaan nie oor wat die kroon vir jou kan doen nie, maar wat jy vir en met die kroon kan doen.
Probeer om nie aanvaarding te soek deur sosialemediaplatforms nie. Soms dit kan dit ‘n harde plek wees sonder perke. Wees vasberade en altyd jouself, iewers is daar iemand wat by jou gaan aanklank vind en vir wie jy gaan aanraak. Keer dat jou selfwaarde gegrond word op sosialemediateenwoordigheid. ‘Likes’ en ‘share’ behoort nie jou bui of geestestoestand te beïnvloed nie. Moet nooit dat iemand se opinie van jou op sosiale media jou definieer nie. Lig mekaar op en versprei ‘n positiewe ‘vibe’. Moet nooit betrokke raak of iemand aanval in ‘n dispuut op sosiale media nie. Jy is groter as dit en dit is benede jou standaarde.”



