Vier buitelanders in hegtenis vir ontvoering en moord

Deel hierdie storie / Share this story

Vier buitelanders is in hegtenis geneem vir die ontvoering en moord op Rezaul Amin Molla (29).

Molla is in Desember, 2021 by Kwaggafontein in Mpumalanga as vermis aangemeld.

Lt. kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, sê die saak van ‘n vermiste persoon is later na ontvoering verander toe die verdagtes glo ‘n losprys van die slagoffer se familie in Bangladesj geëis het.

Ondersoeke het die span na ‘n hospitaal in Queenstown, Oos-Kaap, gelei waar die verdagtes gehospitaliseer is.

Daar word berig dat hulle deur lede van die gemeenskap aangerand is toe hulle probeer het om ‘n ander persoon te ontvoer.

Mohammed Asrepur Rahman (27) en Mohammed Sha Alamin (26) het sedertdien beken dat hulle Molla in Kwaggafontein ontvoer en daarna in Bophelong, Vanderbijlpark in Gauteng vermoor het. Die ander twee verdagtes is in Bophelong in hegtenis geneem en ‘n voertuig wat na bewering tydens die ontvoering gebruik is, is by die woning van een van die verdagtes gevind.

Rahman en Alamin het Dinsdag 18 Januarie 2022 in die Mkobola-landdroshof verskyn en is in aanhouding. Hul saak is tot 25 Januarie 2022 uitgestel sodat hulle ’n regsverteenwoordiger kan kry.

Die ander twee verdagtes verskyn binnekort.

Die Nasionale Kommissaris het die span, bestaande uit die Mpumalanga- provinsiale speurders, Gautengse Opsporingspan, Kwa-Mhlanga Distrik LCRC, Nasionale Misdaadintelligensie en ander rolspelers geprys vir hul pogings om die verdagtes op te spoor en te verseker dat die gesag van die staat gevoel word in die intensivering van die stryd teen ontvoerings.