Ouers van die Primêre Skool West End in Kimberley in die Noord-Kaap, is ontstoke oor bourommel wat die skoolterrein vol lê.
“Ek moes met ‘n baie swaar hart my kinders by die skool aflaai, aangesien die skool in so ‘n haglike toestand is,” vertel ‘n ma, wie anoniem wil bly om haar kinders te beskerm.
“Die skool was besig met bouwerk, nou al vir drie jaar lank. Een kontrakteur het weggehardloop met die geld, die bouery is gestaak en toe gebruik die nuwe bouer minderwaardige materiaal.”

Sy sê die kinders het gister begin skoolgaan, maar dis ‘n “gemors”. “Dis net bourommel oral. Dis so gevaarlik! Daar is geen lopende water nie, die bouwerk vind plaas met die kinders daar en die arme kinders is in die middel van alles. Ek voel hulpeloos as ‘n ouer. Ek het nie die skool gekies nie, die departement het die skool vir my gekies. Hoe verwag hulle moet onderwysers ook so onderrig gee?”
‘n Ontstoke ouer sê dis erg genoeg dat die kinders met maskers moet skool toe gaan as gevolg van Covid-regulasies, maar nou moet hulle nog dié gevaar ook trotseer. “Volwassenes moet veiligheidstoerusting dra, maar nie die kinders nie? Die kinders is maar 5 tot 13 jaar oud.”

Geoffrey van der Merwe, woordvoerder vir die departement van onderwys in die Noord-Kaap, sê die infrastruktuur-eenheid het gister ‘n vergadering op die terrein gehad. “Die kontrakteur op die terrein het ons verseker dat hy by die gesondheids- en veiligheidsregulasies hou. ‘n Vertraging is veroorsaak deur die onlangse reën wat ons ervaar het en die werk sal na verwagting vandag voltooi wees.”




