So lyk die wêreld se grootste geslypte swart diamant

Deel hierdie storie / Share this story

Die wêreld se grootste geslypte diamant is Maandag vir die eerste keer in die openbaar vertoon voordat dit vir ‘n moontlike vyf miljoen dollar verkoop gaan word.

Die Enigma, die naam van die skaars swart karbanado, word in Dubai, in die Verenigde Arabiese Emirate, uitgestal.

Volgens Sophie Stevens, ‘n juwelierswarespesialis by Sotheby’s-veilinghuis, is die diamant vermoedelik geskep toe ‘n meteoriet of ‘n asteroïde die aarde meer as 2,6 miljard jaar gelede getref het.

Karbonado’s is van die moeilikste stowwe om te sny. Die 555.55 karaat diamant is nog nooit deur sy naamlose eienaar van die afgelope 20 jaar gewys nie, maar kenners het dit in ‘n 55-gesig juweel verander.

Die vorm daarvan is geïnspireer deur die Midde-Oosterse palmvormige simbool van mag en beskerming, die Hamsa, wat ook met die nommer vyf geassosieer word.

“Dit is baie anders,” het Stevens gesê oor die juweel, wat ’n Guinness-wêreldrekord hou as die grootste geslypte diamant.

Nadat die Enigma in Dubai te sien was, sal dit ook na Los Angeles en Londen geneem word, voordat ‘n sewe dae lange aanlyn veiling op 3 Februarie begin.

Wat Sotheby’s ‘n “kosmiese wonder” genoem het, kan baie goed na ‘n bitcoin-bieër gaan, het Stevens gesê.

“Ons aanvaar kriptogeld vir die diamant, wat ons vir ander belangrike stene gedoen het,” het sy gesê.

Verlede jaar in Hong Kong is die Key 10138-diamant vir 12,3 miljoen dollar verkoop wat in kripto-geldeenhede betaal is.