Pret met letters geskryf deur Wendy Maartens
Christian Art Kids het onlangs Wendy Maartens se kinderboek getiteld Pret met letters: stories en aktiwiteite oor letters in die Bybel gepubliseer. Maartens is ’n bekroonde kinderboekskrywer met meer as 53 titels agter haar naam.
Kinders tussen vyf en agt jaar oud sal ure se skoon en produktiewe vermaak uit Pret met letters put. Dié aktiwiteitsboek beslaan 78 bladsye tjokkenblok vol stories en aktiwiteite met ’n Bybelse inslag. Ouers, versorgers en onderwysers sal hierdie boek verwelkom. Hulle kan dit gebruik om kinders aan die kleur en nuanses van taal bloot te stel.
Wendy Maartens skryf: “Hierdie boek is ideaal om die kind wat nog nie self kan lees nie te stimuleer en bloot te stel aan die vorm en klank van die letters van die alfabet terwyl hy kennis oor die Bybel opdoen en die nuanses van ons wonderlike taal aanleer.
Die aktiwiteite wissel van vind die verskille, soek die woorde, maklike blokkiesraaisels en inkleurprente. Die oplossings word agter in die boek gegee. Net mooi 26 stories word op die linkerkanste bladsye vertel met die gepaardgaande aktiwiteite op die regterkantste bladsye. Daar is ook kort Bybelverse om te memoriseer en gebede om te bid.
Ek beveel hierdie prettige aktiwiteitsboek heelhartig aan. Dit bied uitstekende waarde vir geld en word verkoop teen R49,00 per boek. Kinders leer meer van God se wêreld en sy liefde vir hulle terwyl hulle terselfdertyd vertroud raak met die alfabet en leer om met begrip te lees. Hulle kan elke dag met stories en aktiwiteite begin terwyl hulle die letters leer.
Bestel gerus jou kopie van Wendy Maartens se Pret met letters hier.
Gaan lees hier meer oor die Goorgomgaatjie.



