Ouers pleeg selfdood, baba wees

Deel hierdie storie / Share this story

FLORIDA. – ‘n Maand oue baba is wees nadat sy ouers selfdood gepleeg het.

Clatton Osteen en sy lewensmaat, Victoria Pacheco, het onderskeidelik op Oujaarsaand en 3 Januarie selfdood gepleeg.

Osteen het aanvanklik oorleef en is na ‘n hospitaal geneem, waar sy familie twee dae later die besluit geneem het om hom van lewensondersteuning af te haal

‘n Dag later het sy lewensmaat, kollega en die ma van sy een maand oue seuntjie, Pacheco, haar eie lewe geneem.

Osteen en Pacheco het hul eersteling, Jayce Osteen, middel November verwelkom.

“Woorde kan nie die geweldige verlies beskryf wat ons almal voel nadat ons hierdie twee lede verloor het nie. Ons almal was soos familie,” het Ken Mascara, balju van St Lucie county, gesê.

Mascara het Dinsdag die dood bevestig. Hy sê die balju-kantoor het kort voor middernag op Oujaarsaand ‘n oproep oor ‘n selfdoodpoging gekry.

Ondersoekers het verneem die persoon wat probeer het om sy eie lewe te neem, was een van hul adjunkte, Osteen, wat van diens af was.

Die rede vir hul selfdood is nog onbekend, maar volgens Mascara het hy gesien die paartjie verkeer die laaste tyd onder spanning.

“Hoewel dit vir ons onmoontlik is om die omstandighede wat tot hierdie verwoestende verlies gelei het, ten volle te begryp, bid ons dat hierdie tragedie ‘n katalisator word vir verandering, ‘n katalisator om die stigma rondom geestelike welstand te help verlig en die gesprek oor die uitdagings wat ons op ‘n gereelde basis in die gesig staar, te normaliseer’ het die balju bygevoeg.