‘Doodgebore’ baba toe lewend gevind met voorbereiding van begrafnis

Deel hierdie storie / Share this story

’n “Doodgebore” baba, wat by die huis gebore is, is deur ’n dokter dood verklaar, net vir die begrafnisondernemer om ’n hartklop tydens die voorbereiding vir die begrafnis te vind.

The Mirror berig die ma (18), wie se naam nie genoem word nie, was nie bewus daarvan dat sy swanger was nie en het op 27 Desember 2021 hulp by ’n hospitaal in die Brasiliaanse deelstaat Rondonia gaan vra.

Sy is twee maal met erge pyn na die hospitaal waar sy glo deur mediese werkers huis toe gestuur is sonder dat hulle agtergekom het sy is swanger.

Volgens die vrou se familie het die pyn by die huis vererger en het sy die baba sonder mediese hulp in die lewe gebring.

Die baba het net 1 kg by geboorte geweeg en daar word vermoed die ma was net vyf maande swanger toe sy in kraam gegaan het. Die baba is deur ‘n dokter dood verklaar toe hulle met die baba hospitaal toe is.

Die begrafnisondernemer, wie se naam nie genoem is nie, is ontbied om die baba se liggaam by die hospitaal te gaan haal en dit vir die begrafnis voor te berei.

“Doodgebore” baba gaan haal vir begrafnisvoorbereidig

Hy het die liggaam Dinsdag omstreeks 03:00 afgehaal. ’n Paar uur later, terwyl hy besig was om die prosedures vir die begrafnis uit te voer, het hy opgemerk dat die baba sug en dat sy hart klop.

Hy het die baba dadelik hospitaal toe geneem en die pasgebore baba is in die neonatale intensiewesorgeenheid opgeneem vir behandeling.

Die baba se gesondheidstatus is tans onduidelik.

Die familie en die begrafnisondernemer het glo ‘n polisieverslag ingedien. Die ondersoek duur voort

Volg FiND iT op Facebook hier en lees meer artikels hier.