‘n Perd sit vas op ‘n eiland in die Vaalrivier, net buite Barkly-Wes.
Perdeliefhebbers is tans op die toneel en probeer help waar hulle kan. Marie Wiese, van die Perdeklub in Kimberley, sê hulle het gister gehoor van die perd, maar dit was alreeds te laat en het donker geraak. Vanoggend vroeg is ‘n groep mense uit na die toneel, waar die perd in die middel van die rivier op ‘n klein stukkie droë aarde vassit.
“Ons weet glad nie hoe die perd daar gekom het, of wie se perd dit is nie. Ons weet nie eens of dit ‘n mak of wilde perd is nie.”

Wiese sê die rivier is geweldig sterk, met strome wat afkom nadat damme glo oopgemaak is na die swaar reën wat die gebied die afgelope tyd ervaar het.
“Daar is ongeveer 100 m water aan weerskante van die perd. Ons kan glad nie van waar ons staan die perd sien nie. Ons het ‘n drone opgestuur om hom af te neem.”

Nooddienste is glo op pad na die toneel, maar dit is onseker hoe die perd gered kan word. “Ek wil amper sê net ‘n helikopter kan hom red. Ons is veral bekommerd as die strome sterker raak en die perd nie meer plek het hom te staan nie.”
Enigiemand wat van hulp kan wees, kan Wiese by 078 082 8670 kontak.
Hier is die ligging van waar die perd is:



