Paartjie opgewonde oor ‘avontuur’ en die reis na ouerskap

Deel hierdie storie / Share this story

Foto’s: Leani Photography

Suné (26) en Johan van der Merwe (29) brand van opgewondenheid om in Februarie 2022 hulle babaseuntjie, Ethan, in die wêreld te verwelkom.

Suné gesels met ons oor haar babatjie, hoe opgewonde hulle is en hoe sy haar swangerskap sover tydens die pandemie ervaar.

Die paartjie, ‘n onderwyseres en sagtewarefasiliteerder, bly al so lank as wat hul kan onthou in Bloemfontein. “Die lekkerste deel van Bloemfontein is om te weet dat niks té ver is nie, maar daar is ook genoeg lekker plekke om te kan te gaan stap of uit te kom, sodat jy nie so vasgedruk voel nie!”

Baba Ethan, wat Suné op 10 Februarie verwag, is dié paartjie se eerste babatjie. Suné vertel hulle het lank geneem om Ethan se naam te kies. “Ons wou graag ‘n naam kies wat vir ons baie beteken. Johan se naam en doopname hardloop ook al ‘n paar generasies en ons het nie kans gesien vir nóg ‘n Johan nie,” skerts sy. “Ons het toe besluit op die naam Ethan, wat ‘n kombinasie van Johan se ma en oorlede pa se name is. Etta en Johan. Ethan beteken ook sterk, solied, ferm en blywend.”

Foto: Leani Photography

Die paartjie het ‘n intieme geslagsonthullingspartytjie gehou saam met hulle naaste vriende en familie. Suné sê daar is ‘n klomp seuntjies in die familie en hulle het gedink dat hulle babatjie die eerste dogtertjie gaan wees. “Ek het eintlik van die begin af geweet dit gaan ‘n klein seuntjie wees. Dit was ‘n groot oomblik toe ons die blou rook sien en weet dat dit werklik so is. Dit was vir ons baie spesiaal om dit met ons geliefdes te kon deel.”

Dis nie net Suné en Johan wat opgewonde is oor klein Ethan se koms nie, maar hulle ouers is net so opgewonde oor hul kleinseun. Suné sê hulle het Johan se ma, wat ver bly, oor ‘n video-oproep vertel. “Ons het ‘n paar baba-items in ‘n boksie gepak. Ons het vir haar gesê dis ‘n pakkie wat ons vir haar gaan koerier en dat ons haar graag wil wys wat binne-in is. Sy het eers gedink ons maak ‘n grap, maar was in ekstase toe sy ons uiteindelik glo. Sy het lank geskimp vir die kleinkind!”

Vir Suné se ma en haar man het die paartjie ‘n boksie met ‘n paar stapskoentjies in gegee. “Sommer omdat hulle ook baie lief is vir die natuur. Ons het in die boksie geskryf: ‘Ouma en Oupa, hou solank my stapskoene tot ek kan kom kuier.” Suné se haar ma het natuurlik ‘n traan gepik en is baie opgewonde.

Dan vertel Suné hoe hulle hul vriende van klein Ethan vertel het. “Ons naaste vriendekring is regtig ons familie. Ons is almal saam die ‘wolfpack’ en deel regtig al die goed en sleg in die lewe.”

Voordat die paartjie geweet het dat Suné swanger is, het hulle ‘n nuwe huis gekoop en sy vertel hoe hulle by hul laaste aand by hul vorige huis gekuier het. “Die mans het vir hulle almal hemde laat maak en ons het toe skelm op ‘n babygrow ook laat print: ‘Newest member of the pack coming soon’. Johan het die hemde uitgedeel en heel laaste die babygrow uitgehaal. Dit was ‘n groot oomblik en skok vir almal oor die eerste baba in die vriendekring!”

Behalwe vir die spanning en onsekerheid wat daarmee saam gaan om in die Covid-19-pandemie swanger te wees, het Suné ‘n rustige swangerskap. “Die eerste ruk van swangerskap het defnitief sy ‘scary’ oomblikke gehad toe Ethan ons baie bekommerd gehad het,” vertel sy.

Foto: Leani Photography

Suné het ook gedurende haar swangerskap positief getoets vir Covid-19. “Dit het die bekommernis nog groter gemaak! Maar ons was gelukkig gereeld vir skanderings en kon elke deeltjie van Ethan se groei sien, wat baie kosbaar was.”

Suné sê Johan is net so opgewonde. “Johan is absoluut my steunpilaar. Hy is die een wat in alle situasies kalm en rustig bly. Hy is baie opgewonde en betrokke en loer gereeld deur die dag in om te hoor hoe dit gaan met my en ons seuntjie. Hy help ook deur meer takies in en om die huis te doen, maar kosmaak is nog nie deel van die pakket nie,” skerts sy.

Suné sê sy weet nie of hulle werklik voorbereid kan wees op dit wat kom met ‘n eerste baba nie, maar dat hulle soveel rustiger voel met die mense wat in hulle lewens is. “Ons is definitief ‘n kombinasie van alle emosies, bang en op ons senuwees, maar ter selfde tyd is ons so opgewonde en kan ons nie wag om ouers te word en ‘n nuwe fase in te gaan nie. Verder dink ek ons sal elke dag vat as ‘n nuwe avontuur en elke oomblik probeer inneem en geniet!”

Foto: Leani Photography