Sunlight-seep is dalk ’n skoonmaakmiddel wat jou toelaat om eenhonderd keer skottelgoed te was, maar na aanleiding van vandag se boereraatwenke, word Sunlight-seep ook as ʼn wondermiddel bestempel wat jou in staat gaan stel om takies in en om die huis gemaklik en doeltreffend aan te pak.
Mediese gebruike vir Sunlight-seep:
Jy kan puisies en swartkoppies verminder deur ʼn gesigmasker te maak van ʼn koekie groen Sunlight-seep. Week die seep in warm water, skraap dan ʼn deel van die buitenste sagte lagie af en smeer dit aan jou gesig en nek. Sodra dit droog is, kan jy dit afwas, maar jy is ook meer as welkom om daarmee te slaap. Dit droog nie die vel uit nie; inteendeel, dit bevogtig en trek
die porieё op jou vel mooi toe.
Sunlight-seep is ook ideaal vir brandwonde. Smeer die seep oor die gebrande area, want dit sal die brand uittrek en help met genesing.
Sunlight-seep sal daardie doring wat diep in jou voet sit, in ʼn japtrap uittrek. Rasper ʼn koekie groen Sunlight-seep en meng die seepskaafsels met suiker en ʼn bietjie water sodat dit ’n pasta maak. Smeer dan die Sunlight-pasta oor die area waar die doring is en plak dit toe met ’n pleister.
Skoonmaakwenke:
Jy kan jou juwele weer pragtig laat skitter deur dit vir ’n paar ure lank in ’n mengsel van ’n kwart koppie ammoniak en ’n teelepel Sunlight Liquid-seep te laat week. Borsel dan die juwele met ʼn ou tandeborsel en spoel dit onder koue lopende water af.
Om daardie grasvlekke uit jou kind se klere te kry, kan jy die groen koekie Sunlight-seep gebruik. Vryf die koekie seep oor die vlek en laat dit in die son droog word. Was dan die klere soos gewoonlik.
As jy per ongeluk jou wit klere saam met ander klere gewas het en dit nou gevlek is, kan jy die kledingstuk goed insmeer met ʼn groen koekie Sunlight-seep. Gooi vier eetlepels koeksoda en een koppie wit asyn in baie warm water. Druk die kledingstuk onder die water en roer dit nou en dan. Week die kledingstuk vir 3 ure. Jy sal verbaas wees wat koeksoda en asyn uit jou klere uit kan haal.
Kry insekte en plae onder beheer met Sunlight-seep:
Om vlooie en bosluise weg te hou, was jou honde met Sunlight-seep in water waarin twee proppies Dettol opgelos is.
Raak ontslae van daardie lastige vismotte deur ʼn blok groen Sunlight-seep te rasper en dan die skaafsels in die kas of sak waar jy komberse en linne bêre, te strooi.
Meng twee eetlepels suiker, twee eetlepels spiritus, twee eetlepels witasyn en twee eetlepels Sunlight Liquid-seep in ’n eenliter-spuitbottel vol water en spuit jou plante om plantluise te verwyder.
Volg FiND iT hier op Facebook.



