‘n Pa en sy twee seuns is op Kersdag dood nadat hul Kersboom aan die brand geslaan het.
Eric King (41) en sy twee seuns, Liam (11) en Patrick (8), asook hulle twee honde, het doodgebrand nadat daar glo ‘n kortsluiting in hul Kersfeesboom se liggies plaagevind het. Hulle huis in Quakertown, Pennysalvania, het aan die brand geslaan.
Die Kersboom was in die middel van die voorvenster van die huis.
Sy vrou, Kristin, en hul oudste seun, Bradley (13), het oorleef.
Ma en seun is na die Lehigh Valley-hospitaal geneem vir behandeling en is later ontslaan.
‘n Groot gedeelte van die huis is deur die brand verwoes.
Die gesinshuis langsaan is ook in die brand verwoes, maar ‘n gesin van vier sonder kon betyds ontsnap, sonder enige beserings.
Die polisie in Quakertown het omstreeks 01:30 Saterdagoggend ‘n oproep ontvang oor ‘n huis wat by Essex-hof brand.
Nadat die brandweer ontbied is, het hulle probeer om die huis binne te gaan, maar die rook en vlamme was te veel.
Volgens die brandbestryders het hulle verskeie pogings aangewend om die slagoffers wat in die huis vasgekeer was, te red, maar as gevolg van die dik rookwolke het hulle gesukkel om te sien.
Kristin en Brady het aan die agterkant van die huis ontsnap.
Meredith Buck sê geen vuilspel word vermoed nie.
“Volgens wat ons op die toneel kan sien, het die Kersboom aan die brand geslaan. Die ondersoek gaan voort, maar die bewyse is duidelik dat dit by die Kersboom begin het.
“Die Kersboom was ‘n regte boom. Só ‘n Kersboom brand baie vinnig. Wanneer so ‘n boom nog baie droog ook is, maak dit die brand baie erger.”
Die huis se konstruksie het ook uit hout bestaan wat waarskynlik ook die brand vererger het.
Wilson Martinez, een van die brandbestryders, sê hulle het hul bes probeer om almal in die huis te red. “Ek kon niemand sien nie, so ek het gedink dat hulle almal uit die huis is. Dit is regtig hartseer om te dink dat ons nie almal kon red nie.”
Slegs nege ure na die brand het ‘n GoFundMe-bladsy, wat geskep is om Kristin en Brady te help, meer as $365 000 ingesamel.
Volgens een van die inwoners op die dorp was Eric en Kristin hoërskoolliefdes en een van die gelukkigste paartjies wat jy ooit sou ontmoet. “Hulle het altyd ‘n glimlag op hul gesigte gehad en was vol positiewe gees, jy kon net nie anders as om vir hulle lief te wees nie.”








