Om brandstof te spaar is soms moeilik, maar elke bietjie help tog. Die doeltreffendste manier vir brandstofbesparing is om die hoeveelheid brandstof wat jy gebruik, te verminder.
Het jy geweet dat jy meer brandstof kan bespaar deur eenvoudige dinge te doen?
Die effektiefste en maklikste manier vir verhoging van brandstofdoeltreffendheid is om stadig te ry. Hoe moeilik kan dit nou wees?
Toetse op ‘n groot aantal voertuie het ook getoon dat jy brandstof kan bespaar deur gereeld jou enjin te laat diens, veral deur gereeld jou lugfilter te vervang.
Onthou, ‘n verkeerde vonkprop of vonkpropgaping verminder die kraglewering en verhoog brandstofverbruik op jou voertuig.
Wanneer jy hard op jou remme slaan, mors jy baie onnodige brandstof. Om herhaaldelik op die rem te trap, verswak ook jou remme op die lang duur. Moenie met jou voet op jou remme ry nie. Dit kan jou 5% meer in brandstofverbruik kos.
Hou die drukking van jou bande konstant. Bande wat te laag gepomp is, verhoog weerstand en dus ook petrolverbruik. Toetse toon dat dit ‘n 5% toename in brandstofverbruik veroorsaak.

Indien jy vir meer as twee minute in die verkeer stilstaan, skakel eerder jou voertuig af. Om jou voertuig te laat “idle” mors brandstof en geld.
Om in die dag met jou ligte aan te ry, veroorsaak ook hoër brandstofverbruik. Skakel jou ligte af in die dag indien die weersomstandighede dit toelaat.
Probeer om nie te veel jou lugverkoeler te gebruik nie. Die lugverkoeler trek baie krag uit jou enjin, wat brandstofverbruik meer maak.
Dit klink na klein en nietige wenke vir brandstofbesparing, maar as jy dit gewoonte maak om dit te doen, sal jy die verskil sien. Nie net in jou motor se brandstofverbruik nie, maar in jou sak ook.
Volg FiND iT hier op Facebook.
Lees ook: Kroegeienaar drink hom dood



