Pippie is Pippie. Sy staan op met ‘n lag in haar stem en gaan slaap met ‘n glimlag op haar gesig.
Pippie Kruger het 10 jaar gelede erge brandwonde opgedoen in ‘n fratsongeluk wat oor Nuwejaar gebeur het.
Sy het 80% derdegraadse brandwonde oor haar lyf opgedoen. Pippie het ook brein skade opgedoen as gevolg van die suurstoftekort. Sy was maar nog ‘n baba.

Niemand het gedink hierdie lyfie sou brandwonde, breinskade, hartaanvalle en operasies oorleef nie, maar vandag, 10 jaar later, straal hierdie meisiekind.
Die wrede wêreld en al sy dinge sal haar nie onderkry nie.
Sy het steeds gesondheidsprobleme, liggaamlik sowel as emosioneel, vertel haar ma.
In 2022 wag daar ‘n hele paar groot gebeurtenisse vir hierdie jong dame. Haar afspraak met Dr. Mia is om die draai en dan sal hulle presies weet wat die volgende stappe gaan wees.
Pippie en haar ma, Anicé Kruger, het geleer om een ding op ‘n slag te vat. Pippie word nou groot, haar lyfie verander, maar haar vel en spiere is nog van die grootste struikelblokke.
“Ek as ma sal nooit kan sê wat my drome is vir Pippie of boetie Arno nie. Ek droom saam met hulle. Eendag as sy my kan vertel wat haar drome is, dan sal ons dit voluit lewe elke dag en soveel moontlik daarvan maak. Haar en boetie Arno s’n.”
“My enigste wens op hierdie oomblik, amper ‘n dekade na die ongeluk, is dat sy weet ek het haar lief, dat ek trots is op haar en dat sy my rots is. Ek sal elke minuut langs haar wees om alles net beter te maak vir haar.”
Pippie is ‘n groot wonderwerk wat niemand kan miskyk nie. “God is genade!”
Volg FiND iT hier op Facebook.



