Vermiste student naak, lewendig in man se kelder gevind

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Man van Utah is in aanhouding nadat ’n vermiste universiteitstudent lewend in sy huis, naak en bedek met steenkool gevind is.

Madelyn Allen, ‘n 19-jarige student aan Snow College in Ephraim, is met haar gesin herenig nadat sy verlede Saterdag, vyf dae nadat sy uit haar koshuiskamer verdwyn het, gevind is.

So het Snow College-polisiehoof, Derek Walk, Sondag tydens ‘n perskonferensie gesê.

Brent Neil Brown (39), wat Allen na bewering dae lank by sy huis gevange gehou het nadat hy haar aanlyn ontmoet het, staan ​​tereg op aanklagte van ernstige ontvoering, verkragting, voorwerpverkragting en dwarsboming van die gereg, berig New York Post.

“Ons het nie baie inligting oor hom nie,” het Walk aan New York Post-verslaggewers gesê.

“Ons is nog nie heeltemal seker wat die verhouding tussen hulle was en wat haar kennis van hom tot dusver is nie.”

Allen, oorspronklik van Kaysville, het Brown op ‘n aanlyn-kletsgroep ontmoet en gereël dat hy haar op 13 Desember ontmoet.

Sekuriteitsbeeldmateriaal by die universiteit wys hoe Allen haar koshuiskamer met ‘n plastieksak in haar hand verlaat.

Luidens hofstukke het haar kamermaats haar as vermis aangemeld toe sy nie die volgende dag teruggekeer het nie.

Brown het na bewering in die daaropvolgende dae gewelddadig teenoor Allen geraak. Hy het haar glo toegelaat om een boodskap aan haar gesin te stuur, waarna hy haar foon en beursie gevat het.

Brown het Allen vasgebind terwyl hy by die werk was en gedreig dat indien sy probeer ontsnap of geluide maak, hy haar familie sal doodmaak.

Ondersoekbeamptes het selfoontoringinligting gebruik om die vermiste tiener in die dorp van sowat 500 inwoners op te spoor.

Allen is ongeveer 35 km van die universiteit gevind.

Nadat die polisie aan Brown se deur geklop het, het hy die deur oopgemaak en gesê hy is alleen, maar die polisie het Allen later in ‘n kelderkamer gevind, waar sy naak en bedek met steenkool was.

Allen se ouers, Jonathan en Taunya Allen, het gesê hulle was Sondag verlig om met hul dogter herenig te word. Sy is intussen in die hospitaal opgeneem. Haar toestand en beserings is nog onduidelik.