Langenhovenpark-buurtwag: ‘n Vrou voel soveel veiliger

Deel hierdie storie / Share this story

Anton Botha (42) is al vir drie van sy 13 jaar in Bloemfontein by die AfriForum-struktuur betrokke.

Hy vertel die Rosestad is nie net sentraal vir sy besigheid nie, maar die vriendelike mense maak dit maklik om in te skakel.

Die Langenhovenpark-buurtwag is in 2015 gestig en bestaan uit twee bene, een vir veiligheid en een vir omgewingsake.

Ons gesels met Anton oor die veiligheid (buurtwag), hoe hulle ‘n ongelooflike verskil in soveel inwoners se lewens maak, hulle veilig laat voel en ook seker maak dat betreders of diewe nie sommer weer hulle voete in dié buurt sit nie.

Die Langenhovenpark-buurtwag het 600 lede, wat oë en ore is, wat enige sake wat aandag nodig het soos verdagte voertuie, onreëlmatige bewegings of persone, aan die reaksiespan kan rapporteer.

Die reaksiespan bestaan uit 23 lede wat dan die nodige reaksie uitvoer om vas te stel of daar enige verdere optrede nodig is.

Anton gebruik ‘n voorbeeld. “As tannie Dora byvoorbeeld ‘n verlate motor of ‘n voetganger voor haar hek opmerk, sal sy ‘n boodskap op ons WhatsApp-groep stuur. Gewoonlik sal meer as twee lede van die reaksiespan dan gaan ondersoek instel en só bepaal of daar versterkings nodig is. Gewoonlik is dit sommer om die booswig die skrik op die lyf te jaag, maar as dit ‘n betreding of huisbraak is, sal die polisie in kennis gestel word.”

Cat van der Merwe sê: “‘n Vrou voel tog veiliger as sy weet daar is ‘n buurtwag wat agter haar man staan soos een ‘army’. Almal bly agter slot en grendel in die gemak van hul eie huise… En vergeet soms wat dit is om buurtelik te wees en saam te staan vir ‘n veiliger buurt.”

Anton vertel hulle maak ook gebruik van ‘n gespesialiseerde hommeltuig om lugbystand te verleen. Dié hommeltuig het die nodige infrarooi-toestelle en kameras, met ‘n opgeleide loods wat 24 uur per dag beskikbaar is. “Ons het al reuse sukses met die hommeltuig bereik, insluitend na veediefstal van 120 skape wat die volgende dag uit die lug, 22 km verder, gekry is.”

AfriForum Langenhovenpark het ook ‘n goedgekeurde en 24 uur bemande radionetwerk. Anton vertel die beheerkamer het direkte toegang tot die polisie, alle sekuriteitsmaatskappye en ook nooddienste deur middel van ‘n aparte radionetwerk wat deur AfriForum bedryf word.

Hy vertel dan van die suksesverhale wat hulle al gehad het.

“Op 1 November vanjaar het ons veiligeidsbystand by al die stemlokale gebied. Ten tye van die stemmery het ons ‘n noodoproep ontvang van ‘n inbraak in Antjie Krog-straat. Na verdere ondersoek was daar reeds by vier ander huise ook ingebreek. Op ons kameras het ons die verdagte by een van die huise gesien.” Anton sê die boodskap is, saam met die verdagte se klerebeskrywing, na die reaksiespan gestuur. Die verdagte is deur een van die lede gewaar en te voet agternagesit. “Minute later was daar 13 lede op die toneel en die verdagte is in ‘n erf vasgetrek waar hy probeer wegkruip het. Hy is met die gesteelde beursies in sy besit gevind, gearresteer en aan die polisie oorhandig.”

Anton sê hulle doen minstens een patrollie per week op verskillende dae en tye, selfs tussen 02:00 en 06:00 die oggend. “Hier word die hommeltuig ook baie gebruik om die oortreders se bewegings vas te vang.” Tydens beurtkrag is die lede se teenwoordigheid in die buurt ook sigbaar, aangesien 90% van die buurt dan weerloos is teen aanvalle.

Verder bied hulle ook bystand vir mediese personeel in gevaarlike of onsekere scenario’s en ook verkeersbystand soos nodig in tye van ongelukke.

“Ons befonds ons eie brandstof vir die gemiddelde 1 200 km se patrollies per maand, dit sluit nie reaksies in nie. Ons word nie vergoed vir enige optrede nie, dit is vrywillig. Die fondse wat Afriforum hef, is deur middel van donasies van die lede, van R100/maand tot enige bedrag soos wat lede goeddink. Die donasie gee jou toegang tot al die dienste.”

Langenhovenpark-inwoners kan Anton direk skakel by 082 781 5672 of hulle Facebook-blad hier besoek vir meer inligting.